Wednesday 26 June 2013

Vroue verheerlik die Here!

Tien riglyne -  Hoe ek as vrou  en moeder en grootmoeder vir  God kan  verheerlik  en  Hom in alles kan geniet!

1.       Wees seker van jou geloof!   Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? 
Antw.  Dat ek met liggaam en siel in lewe in in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sonde ten  volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.  Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my Hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie.  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.  Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
(Heidelbergse Kategismus)
 
2.       Vind vreugde in die Here se Woord,  dink daaroor na en memoriseer dit! – Ps. 1 “Dit gaan goed met die mens wat vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink…..”
 
3.       Bid  oor alles! – Fil. 4:6-7 “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.  Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.  As julle so bid sal julle God se vrede beleef.”
 
4.       Stry  teen sonde in jou lewe!  – Rom. 6:11-13 – “Moenie toelaat dat sonde jul lewens beheer nie…..julle is betrokke in ‘n geestelike oorlog. Moenie jul liggaamlike  vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir sondaars  beskikbaar stel nie, maar stel dit aan God beskikbaar as wapens van geregtigheid…”
Stry as vrygespreekte sondaar! Miga 7:8-9  “Ek het geval, maar sal weer opstaan….Hy sal weer lig in my lewe bring.”  Ps. 51:14 “Laat my weer blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is…”
 
5.       Aanvaar  vreugde in die Here as ‘n geskenk van God!  -   Gal. 5:22 “Die vrug van die Gees is liefde, vrede, vreugde….”
 
6.       Volhard  in geloof! -   2 Tim. 4:7 “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi en ek het gelowig gebly.”
 
7.       Verheerlik  die Here deur na jou liggaam om te sien! -   Kry rus, oefening en regte dieet waarvoor die Here jou liggaam gemaak het. 1 Kor. 6:20 “ want julle is teen ‘n duur prys gekoop.  Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.  
Verwonder  jou  in God se openbaringe in die natuur en prys Hom daarvoor   Matt. 6:30 “As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie?”
 
8.       Preek  vir jouself i.p.v. luister na jouself! - Ps. 42:6&12 “Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom is ek so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys.  Hy is my redder en my God!”
 
9.       Spandeer  tyd met Geesvervulde mense en  lees   geestelike boeke veral biografieë van gelowiges! -   Spr. 13:20 “Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid.  Meng jou met dwase en jy word self soos hulle.”
(Augustine Bookroom www.augustine.co.za)
 
10.   Wees tot  ‘n seën vir ander omdat die Here jou  seën! -   Ps. 67:1-3 “Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn, sodat Sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, sy reddende  krag onder alle nasies”
 

Neem tyd om die 10 punte deur te werk en merk af nadat jy vir die Hemelse Vader gevra het om jou daarmee te help!

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap