Saturday 22 June 2013

JESUS SE LEWE


Jesus se lewe ‘n lewe van gebed, lering, omgee en swaarkry

 Jesus Christus ons Here is 2013 jaar gelede gebore en elke dag as julle die datum neerskryf  moet jul dankie sê dat Jesus na die aarde gestuur is deur God sy Vader om soos ons ‘n mens te word en vir ons te kom leer hoe om te lewe.  

1. JESUS SE LEWE WAS ‘N LEWE VAN GEBED: Jesus het gekom om vir die mense te leer hoe om te bid.  Dit is opgeteken in Matt. 6 vs. 9-13.

  • Daar leer Jesus vir ons dat ons vir God ons Vader moet loof en prys omdat Hy ons Vader is.
  • Hy leer vir ons om te bid dat God se Koninkryk sal groter word en meer mense God se kinders moet word.
  • Hy leer ook vir ons dat ons altyd God se wil moet soek.
  • Hy leer ons om te bid vir alles wat ons elke dag nodig het.
  • Ons moet om vergifnis vra as ons verkeerde dinge gedoen, gesê of gedink het wat nie vir God verheerlik nie. Hy leer ons ook om ander te vergewe.
  • Hy leer ons dat ons vir God moet vra om ons te help dat ons nie in versoeking kom nie en dat ons nie die verkeerde pad sal loop nie.
HET JY AL VIR ANDER MENSE GEBID DAT HULLE IN JESUS MOET GLO?  

2.  JESUS SE LEWE WAS ‘N LEWE VAN LERING:  Jesus het vir mense geleer oor baie dinge.  Toe Hy 12 jaar oud was het Hy vir die priesters in die tempel geleer en hulle was verbaas oor hoe Hy vir hulle geleer het.  Lees Mark 1:21-28 te.  Daar sien ons hoe Jesus in die sinagoge(Joodse kerk) in Kapernaum vir die mense geleer het en hoe hulle verbaas was oor hoe Hy vir hulle leer.   Jesus het die mense geleer, maar Hy wou ook hê hulle moes verander.  Hy het vir Saggeus geleer oor sy Vader in die Hemel en Saggeus het vir Jesus aangeneem en tot bekering gekom.

Jesus het vir 3 jaar sy dissipels geleer hoe hulle moet leef en hoe hulle moet optree as Hy dood is en terug is Hemel toe. Nadat Hy hemel toe is, het God die Heilige Gees gestuur om vir ons ‘n Helper te wees en in ons te woon.

WYS JOU LEWE VIR ANDER MENSE HOE OM SOOS JESUS TE LEWE?   

3.  JESUS SE LEWE WAS ‘N LEWE VAN OMGEE:  Jesus stel belang in elke mens.  Hy het baie mense gesond gemaak, maar Hy wil ook vir elkeen ‘n vriend wees.  Hy was ‘n vriend vir die melaatses, vir die Tollenaars, vir sondaars.  Hy het vir siekes gesond gemaak en vir sondaars die pad gewys hoe om in Hom te glo.   Lees die Bybelboek Markus en kyk hoeveel mense Jesus gesond gemaak het en hoeveel in Hom geglo het.

GEE JY OM VIR MENSE OM JOU 

4.  JESUS SE LEWE WAS ‘N LEWE VAN SWAARKRY:   Jesus het op aarde baie gely ter wille van ons sondaars.  Die meeste mense het  nie in Hom geglo nie en wou nie hê Hy moes na hulle dorpe kom nie.  Hulle het selfs probeer om Hom met klippe dood te gooi.  Hulle het dinge van Hom gesê wat nie waar is nie en Hom gekruisig saam met 2 misdadigers.   Ten spyte van al die swaarkry, het Hy steeds lief gebly vir die mense en gebid dat almal sal vergewe word vir wat hulle aan Hom doen.

AS JY DALK SWAARKRY OMDAT JY VIR JESUS VOLG EN LIEFHET, MOET JY OP HOM VERTROU DAT HY JOU SAL HELP.  In Hebr. 13:6 is daar ‘n belofte vir jou:  “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie...” 
 

Toe Jesus gekruisig is, het daar 2 misdadigers alkant van Hom gehang.  Die een misdadiger het Jesus aangeneem terwyl hy langs Jesus gehang het en Jesus het vir hom gesê: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”.  Hy is saam met Jesus Hemel toe.  Die ander misdadiger het nie in Jesus geglo nie, en is verlore.
 

WAT VAN JOU?  As jy in Jesus glo, en sy kind is, mag jou lewe ‘n lewe van gebed, lering, omgee en selfs swaarkry wees.
As jy nog nie in Jesus glo nie en die Here gee jou die begeerte om te glo, kan jy nou daar waar jy is, soos volg bid:  “Hemelse Vader, dankie dat Jesus Christus na die aarde gekom het om Sy lewe te gee vir my sondes.  Ek bely my sonde voor U, ek wil graag breek daarmee.  Help my om U kind te wees en U te volg.  Leer my deur U Woord en Gees hoe ek moet leef.  In Jesus se Naam. Amen.”

 

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap