Sunday 10 November 2013

Kersspel

Hierdie tyd van die jaar wil almal oefen vir 'n kersspel voor die skole sluit.  Hier is 'n kersspel wat ons by 'n Child Evangelism Fellowship werkswinkel gekry het en al 'n paar keer gebruik het.  Dit dra 'n sterk boodskap en die gehoor geniet dit baie. 

Verslaggewer in besige inkopiesentrum  -  almal doen laaste kersinkope.  Verslaggewer ondervra sekere mense: 
Verslaggewer: “Goeie môre! My naam is Jan van “Radio in Afrika”.  Baie welkom by ons spesiale program oor wat in ons omgewing aangaan hierdie Kerstyd.  Soos u kan sien is almal besig om kersinkope te doen en baie besig.  Besighede doen besonder goed vanjaar en almal, Heiden, Jood, Mohammedaan probeer hierdie feestyd uitbuit om hulle sakke voller te maak.   Soos U weet gedenk ons as gelowiges die geboorte van Jesus Christus ons Here.  Hierdie jaar was daar ook baie gepraat oor wie Jesus werklik is.  Is Hy werklik die Messias.  Kom saam met ons en ontdek saam met my wat die mening van ons mense is!” 

Verslaggewer aan seun:  “Môre Boet,  ek wil graag van jou weet of jy weet waaroor Kersfees werklik gaan? Glo jy in Jesus wie se geboorte ons vier?” 

Seun:  “Ek dink Jesus is bedoel vir grootmense.  Ek het gehoor Hy is gebore as ‘n baba en ons dink aan Hom met kersfees, maar ek hou van Kersvader, want hy bring vir my baie geskenke.”  

Verslaggewer aan ou dame: “Môre dame, ek wil graag by u verneem wat dink u van Kersfees en waaroor gaan dit.” 

Ou dame:  “Kersfees is vir die jongmense.  Hulle hou van al die partytjies en inkopies en plesier.  Ek het net gou ‘n kalkoen kom koop sodat ek kan begin regmaak vir die groot ete.  Ons boere hou mos van lekker eet met Kersfees.”  

Verslaggewer aan arm man:  “Goeie môre meneer, kan u vir my sê wat dink u van Kersfees en van Jesus die Seun van God?”

Arm man met ‘n paar kinders:  “Nee meneer, moenie vir my vra nie.  Kersfees is net vir die ryk mense bedoel.  Jesus sorg nie vir my nie.  Ek en hierdie kinders slaap snags in kartonne op die poskantoor se stoep.  Ek kry nou en dan by die sopkombuis ‘n beker sop vir ons.  Buitendien, ek het nie geld nie so wat kan ek vir die Here gee?”  

Verslaggewer aan ryk man met sy 2 kinders:
“Goeie môre meneer, kan u vir my sê wat dink u van Kersfees en Jesus wie se geboorte ons herdenk?”

Ryk man:  “Kersfees is ‘n heerlike tyd vir my en my familie.  Ons is nou op pad om vir my kinders elkeen ‘n ski-plank te gaan koop, want ons gaan hierdie Kersfees na Switserland waar ons ‘n ski-vakansie gaan deurbring.  Ons het alles wat ons nodig het en het regtig nie behoefte aan die kerk of Jesus nie.  Dit is bedoel vir die arm en swak mense.”  

Verslaggewer:  “Dit is werklik skrikwekkend as ons sien en hoor wat mense van Kersfees dink.  As Jesus dan nie vir die jonk of oud, of arm of ryk gekom het nie, vir wie het Hy dan gekom?

Kom ons kyk terug in die Geskiedenis”:  

1  Maria en kinders:
Maria:  “Toe die engel na my kom was ek baie bang.  Ek het gewonder hoekom God ‘n engel stuur om met my te praat, want ek was jonk en arm en het geen geleerdheid gehad nie.  Toe sê die engel ek gaan ‘n Seun hê wat die Messias gaan wees.  Ek het dadelik begin om die Here te loof en te prys”:

Lees lofsang:  Lukas 1:46-50.  God het vir my ‘n geleentheid gegee om Hom te loof.   

Kinders sing: “Al was ek nie daar nie.”   

Verslaggewer:  So Jesus het gekom vir jong mense.  God kan hulle gebruik om belangrike dinge te doen.  Wat van die arm mense?  

2.  Skaapwagters het die volgende beleef: 

Eerste skaapwagter:  “Ai, dit is darem koud vannag – bewe en vryf hande.”
Twee skaapwagter:  “Warm “milo”sal darem nou lekker smaak.”
Derde skaapwagter:  “Geen probleem, ek sal gou na Bethlehem hardloop en vir ons gaan melk koop, maak julle lekker kole en sit solank die ketel op.”
Vierde skaapwagter:  “Waar gaan  jy geld kry om te koop?”
Derde skaapwagter:  “Ek sal by iemand leen of steel.  Ons is darem so arm en ruik ook sleg van hier in die veld lê.  Niemand sal vir ons wil geld leen nie.”
Eerste skaapwagter:  “Ag man, die enigste verskil tussen ons en daai ryk ouens in die dorp is dat hulle snags moet skape tel om aan die slaap te raak en ons moet skape tel om wakker te bly!”
Tweede skaapwagter:  “Dit gaan ‘n lang koue nag wees, kom ons begin maar skape tel!”
Almal tegelyk:  “Wat gaan in die lug aan?”  Skrik groot.   

Engel kom in en sê:  “Moenie bang wees nie, ek bring vir julle goeie tyding van groot blydskap vir almal!”
Skaapwagters:  “Regtig, Wat is dit?”
Engel: “ ‘n Verlosser is vandag gebore – Jesus die Here.  Julle sal Hom vind in Bethlehem, toegedraai in doeke en in ‘n krip neergelê.” 
Skaapwagters vir mekaar: “ Kom laat ons na Behtlehem gaan en hierdie dinge sien wat aan ons vertel is deur die engele”.   

Almal sing saam met CD of klavier of kitaar:  Stille Nag  

Verslaggewer:  “Nadat die skaapwagters, die arm en verstote mense van Bethlehem vir Jesus gesien het in die krip, het hulle rondgegaan en die goeie nuus aan almal vertel.”  
Verslaggewer:  “Jesus het gekom vir die jong mense, vir die arm mense, wat van die ou mense?”  

  1. In Jerusalem was daar ‘n ou man en ou vrou wat die volgende beleef het:
               Voordrag oor Simeon en Anna: 

“In die stad Jerusalem het daar ‘n ou man Simeon gewoon. 
Hy was ‘n gelowige man en Hy het God’s Woord geglo.
Hy het die stem van die Heilige Gees gehoor wat sê
Dat hy sou leef om die Messias te sien,
Die EEN wat almal sal red van sonde en kwaad.
Hy is na die tempelpoorte gelei waar hy vir Jesus Christus
Ons Here gesien het.
Hy neem hom in sy arms en prys God almagtig.
Van vreugde het hy gehuil
Al was hy oud, het hy God’s Seun gesien!! 
 
Anna het ook die baba Jesus gesien toe sy
Na die tempel is om te aanbid.
Sy was reeds 84 jaar.
Toe sy vir Jesus sien, het sy die Heilige gesig herken
Sy het geweet Hy was God se Seun en het dit oral gaan vertel.”
 

Verslaggewer:  “God het vir Anna en Simeon baie liefgehad en hulle het ‘n groot rol gespeel om aan Jesus lof te bring in die Tempel in Jerusalem.  Hulle het Hom herken as hul Verlosser.
Jesus het gekom vir die jong mense, die arm mense, die ou mense en nou bly die ryk mense nog oor.  Het hulle die Verlosser nodig?”  

4.Speel statige musiek en wyse manne staan op.  Party dra sterre op stokkies en ander dra geskenke in silwer en goud toegedraai.  

Verslaggewer:  “Baie dae nadat Jesus gebore is, het wyse manne van die ooste in Jerusalem opgedaag.  Hulle wou weet waar die koning van die Jode gebore was.  Hulle was baie ryk en het ‘n helder ster gevolg.  Niemand in Jerusalem, nie eens Koning Herodes het geweet van Jesus se geboorte nie. 

Toe die ster hulle lei na waar Josef en Maria was, het hulle voor hom neergebuig en hul geskenke gebring.  Dit was duur geskenke want hulle was baie ryk.
Wonderlik!  God het die ryk wyse manes so lief gehad dat Hy hulle met ‘n ster gelei het na die Verlosser.  Hulle het alles gehad, maar was bereid om honderde kilometers te reis om vir Jesus te aanbid.   Omdat hulle ryk was, kon hulle so baie vir Hom gee. Jesus het na die aarde gekom vir jong mense, ou mense, arm en ryk mense”.
            
Kinders sing:  “Geskenke met Kersfees”  

Verslaggewer:  Voordat ons ons program afsluit en vir u ‘n geseënde Kerstyd toewens wil ons vir u vra:  Het u al die grootste geskenk gekry?  Het u al vir Jesus aangeneem as u Verlosser?  Net Jesus kan al u sonde wegneem en u die versekering gee dat u die ewige lewe saam met Hom sal beërwe.”   

Sluit af met lied:  Joh. 3:16 op Stille Nag se wysie:

Johannes 3:16 (2x)  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo-o-o.  Nie verlore mag gaan nie, maar vir ewig kan leef!”   

Sluit af met gebed.

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap