Kleuters


Bybellesuur vir kleuters:

Verwelkoming: Heet kinders welkom en sing lied om almal tuis te laat voel bv. “Ek is lief vir jou en jy is lief vir my, Ons is lief vir God en God is lief vir ons. Vat mekaar se hande, gee mekaar ‘n drukkie.  Ek is lief vir jou en jy is lief vir my.”
Memoriseervers:
“Die woord van God is lewend en kragtig” – Hebreers 4:12.  Verduidelik dat dit lewend is en vir honderde jare bly die boodskap dieselfde en die waarhede dieselfde.

Les:  Die Bybel is lewend en Kragtig (Dr. Sam Doherty - "The Bible" - les 4)
Inleiding:
Ek het vandag vir julle iets saamgebring. (Maak skatkis wat met lap bedek is oop.  Vra vir hulle wat dit is?   Ja dit is  ‘n skatkis vol wonderlike juwele en skatte. Die Bybel is ook amper soos ‘n skatkis, daar is baie wonderlike ware stories van mense en dinge.   Hou Bybel op jou skoot terwyl jy les vertel en wys dit gedurig.
Haal juwele uit skatkis met kaartjies wat vertel van skatte, bv. ons lees van Noag en van Koning Dawid…  Ps. 23 – die Here is my Herder; Joh. 3:16 = God se liefde, ens.
Van watter Bybelstorie hou julle die meeste? Van watter Bybelpersoon hou jy die meeste?
Die Bybel vertel vir ons van al hierdie mense, omdat God vir ons wil wys hoe Hy met mense werk. Ons kan baie by hierdie mense se lewens leer. Party mense in die Bybel het mooi vir God geluister maar ander mense soos ou Jona het soms dom dinge aangevang en nie gedoen wat God gese het nie. Tog was God steeds lief vir hulle almal en het mooi vir hulle gesorg. Dis darem lekker om te weet dat God lief is vir ons ook en mooi vir ons sorg al doen ons ook soms verkeerde goed.
Die Bybel vertel ook vir ons van baie dinge, maar daar is een groot boodskap,  en dit is dat God vir mense baie lief is en dat Hy wil hê ons moet Hom ook lief hê! In Joh. 3:16 lees ons van God se liefde 

Haal prent met sterre en naam Abraham aan juweelstuk vasgemaak uit skatkis:

Hierdie juweel in die Bybel vertel vir ons van Abraham!  Abraham was al baie oud maar het nog glad nie kinders gehad nie. Eendag toe Abraham en sy vrou Sarai al baie oud was, amper so oud soos ‘n Ouma en ‘n Oupa het God vir hulle belowe dat Hy vir hulle soveel kinders gaan gee soos die sterre in die lug! Het jy al die sterre probeer tel? Wow, daar is darem net te baie sterre om te tel…dink julle Abraham het vir God geglo? Ja, al het dit sooooo onmoontlik geklink het hulle geglo dat die woorde van God die waarheid is. In die Bybel kan ons vandag lees dat Abraham op die ou end  wel ‘n seuntjie gekry het, sy naam was Isak. Isak het toe kinders gehad en hulle kinders het toe kinders gehad en hulle toe weer nog kinders en kinders en op die ou ent kon mens nie eers meer tel hoeveel kinders daar was nie. God het vir Abraham ‘n kind belowe en Abraham het God geglo, omdat Hy geglo het dat God altyd sal doen wat Hy se, het God vir Hom ‘n seun en nog baie ander dinge gegee.
God het ook ‘n belofte in Sy Woord, die Bybel, vir jou en vir my. Dis darem wonderlik! God vertel in die Bybel dat Hy ons liefhet en dat Hy al die mense wat aan Hom behoort eendag gaan kom haal om saam met Hom in die Hemel te laat bly. Jesus is reeds besig om vir ons ‘n spesiale plek in die Hemel voor te berei.

 
Haal prent uit skatkis van Hemel wat aan ‘n juweelstuk vasgemaak is 

Die Bybel vertel vir ons dat die Hemel ‘n ongelooflike mooi plek is. Die strate is van goud en daar kan ‘n mens nooit ooit weer val en seerkry nie, niemand sal ooit weer huil of hartseer wees in die hemel nie. en die beste van als in die Hemel is dat ons God self sal kan sien. Die groot, almagtige God wat alles gemaak het wil hê dat ek en jy –en jou Pappa en Mamma, boeties en sussies- saam met Hom moet bly vir ewig. Dis ‘n fantastiese belofte vir almal wat Jesus al in hulle harte ingenooi het, want die Bybel sê ook dat net die van ons wat in Jesus glo en ‘n kind van God geword het sal kan Hemel toe gaan. So as jy nog nooit self gebid het en vir Jesus gevra het om jou sonde skoon te was nie en jou ook ‘n kind van God te maak nie dan moet jy weet dat God nie ‘n ewige lewe in die Hemel vir jou belowe nie. Maar Jesus nooi jou uit om vandag ook ‘n kind van God te word.
As jy dalk vandag saam met my wil bid om ook ‘n kind van God te word kan jy na die tyd vir my kom sê dan wys ek jou uit die Bybel hoe jy dit kan doen. 

Wys prente van kinders wat Bybellees of gee Bybel aan kinders en vra hul moet dankie sê dat ons so ‘n skatkis vol skatte het.   Die Bybel is verseker die mees spesiaalste boek tussen al die ander boeke wat daar is!!!

Lied:
God het my lief, God het my lief,
Ek lees dit in die Bybel, God het my lief.
(Laat die kinders in ‘n kring staan, stuur ‘n Bybel in die rondte en vervang die woord “my”  met elke kind se naam)
 

Afhangende van hoeveel tyd jy het, kan jy nog ander skatte uit skatkis haal bv. Ps. 23 – waar die Here sy sorg belowe soos ‘n Herder;  Ps. 1 – waar die Here belowe dit sal goed gaan met mense wat die Woorde van die Bybel oordink.  Matt. 6:9-13 – die onse Vader gebed, ens. ens.

 
                         
 

 

Bybellesuur:  Die Bybel is kragtig en Ewig - les 3 van Dr. Sam Doherty (The Bible)

Lied: God het my lief, God het my lief,  Ek lees dit in die Bybel, God het my lief. 
Memoriseervers: “Die woord van ons God bly vir ewig” –Jesaja 40:8
Inleiding
Wie van julle het ‘n Oupa of ‘n Ouma? Weet julle dalk hoe oud hulle is? 70 jaar of dalk ouer? Hoe oud is julle? 3 of 4 jaar oud? Kan julle glo dat baie jare gelede julle Oupas en Oumas ook klein kindertjies was soos julle! Hulle was ook eenmal jonk gewees en het toe na klomp jare ouer geword en nou het hulle grys hare en kan nie meer so vinnig hardloop nie. Eendag gaan ons dalk ook so oud word…sjoe, maar gelukkig is dit nog lank.
 Flitskaart 2-1
Weet julle toe my Ouma klein was het sy ook ‘n Bybel gehad en haar ma het ook vir haar daaruit gelees, en dis nog altyd die selfde stories. God het nog nooit Sy Woord die Bybel verander nie, dit bly nog al die jare dieselfde.
Maar weet julle in die Bybel in die boek 2 Konings 21:19-22:1-20 lees ons van ‘n koning…sy naam was koning Amon en hy het baie, baie baie jare gelede geleef nog lank  voor jou Ouma. Koning Amon was ‘n slegte koning. Hy het nooit ooit Bybel gelees nie. inteendeel die Bybels in daardie jare was boekrolle genoem (wys ‘n prentjie van ‘n boekrol) en die koning se boekrolle was so min gelees dat hulle weggeraak het en hy het dit nie eers geweet nie.
Koning Amon het ‘n seuntjie gehad, maar hy het nooit vir sy seuntjie Bybel gelees nie. Dis darem baie hartseer. Maar weet julle Koning Amon het nie lank gelewe nie en toe sy seuntjie net agt jaar oud was het sy seuntjie toe in sy plek koning geword. Sy naam was Josia! Wow, Josia was net agt jaar oud, en ‘n koning!
Josia moes sekerlik baie stories van God gehoor het al het sy Pappa nooit vir hom Bybel gelees nie. Dalk het sy Mamma vir hom vertel of ander mense in die paleis want die Bybel vertel vir ons dat Josia lief was vir die Here en dat hy goeie dinge gedoen het as koning.
Omdat die mense van Josia se koninkryk nooit God se woord gelees het nie het hulle baie verkeerde en slegte dinge gedoen. Hulle kon nie lees van hoe lief God hulle het nie en hulle het net gemaak soos hulle wou.
As ons nie die Bybel gereeld lees nie dan vergeet ons dat God ons gemaak het en dat Hy soos ‘n goeie Pappa vir ons wil wees. Dan kan ons ook maklik begin om verkeerde goed te doen! Die Bybel help ons om te weet hoe om mooi en reg te speel en werk soos God wil he ons moet.
 
Gelukkig het Josia ‘n oulike ou gehad wat vir hom gewerk het, sy naam was Safan. Safan was eendag by die tempel van die Here en hoor toe by die priester dat hulle daar diep onder tussen al die stowwerige goed in die kelder van die tempel die Wetboek van die Here gekry het. Die wetboek was ‘n boekrol (wys weer prentjie van ‘n boekrol) wat presies maar was wat ons Bybel vandag is, net ou-tyds.
Het julle ook al iets verloor en dit dan weer gekry, sjoe dis darem ‘n lekker gevoel.
Nou Safan lees toe die boekrol-Bybel en was so bly dat hy dit dadelik vir Koning Josia gaan lees het. Koning Josia was natuurlik toe so bly dat Hy uiteindelik meer kan leer van God! Hy het geluister en geluister soos wat Safan vir hom lees…maar weet julle wat…hoe meer hy geluister het na God se woorde hoe hartseerder het hy geraak. Hy het laterhand so hartseer geraak dat hy begin huil het, en die Bybel sê vir ons dat hy toe sy klere begin skeur het van hartseer. Dis darem baie hartseer! Hoekom dink julle was hy so hartseer?
Koning Josia was hartseer omdat hy in die Boekrol-Bybel gehoor het dat die mense van sy land verkeerde dinge doen. Hy het besef dat God in Sy woord vir ons vertel hoe lief Hy ons het en dat Hy nie wil hê ons moet sonde doen nie. Josia het geweet dat die mense van God se liefde vergeet het en dat hulle slegtigheid en stoutigheid God baie hartseer maak, en dat die mense mekaar ook baie sleg behandel as gevolg daarvan!
Koning Josia het toe dadelik besef dat hy iets moet doen. Hy laat roep al die mense van sy volk en het gereel dat almal, groot en klein kom luister na die Woord van die Here wat vir almal gelees sou word. Hy het as koning ook beveel dat die mense na God se Woorde moet luister en dat hulle moet ophou met die slegte dinge waarmee hulle besig was.
Josia was baie braaf en het geglo dat die Woord van die Here al die mense sal help om te verander. Al was sy Pa, Koning Amon ‘n slegte koning en al het die mense in groot sonde geleef, het Josia geglo dat as mense God se woorde lees en dit gehoorsaam dan sal sy volk weer ‘n beter volk wees.
Weet julle net soos wat die Bybel vir Koning Josia gehelp het om te weet wat die regte dinge is om te doen so is die Bybel nog net dieselfde vir ons. Jesaja 40:8 se “die woord van ons God bly vir ewig!  Die woorde in die Bybel was presies bedoel vir Josia baie baie baie jare gelede om hom te help, en dieselfde woorde in die Bybel het my Ouma ook gelees toe sy ‘n klein dogtertjie was …en hierdie selfde woorde is vandag vir my en jou om ons te leer van God. Die Woord van ons God bly regtig vir ewig!
Die Bybel is kragtig en sterk om lewens te verander. Koning Josia se volk het minder sonde gedoen omdat hulle toe kon lees van hoe God regtig wil hê hulle moet leef. En die Bybel kan ook jou lewe varander omdat dit jou vertel van Jesus, Sy liefde en wat Hy ook vir jou gedoen het omdat Hy jou liefhet.


Hersieningspeletjie:  Som die verhaal van Josia op in 5 sinne en kinders moet mooi luister.  As die sin reg is moet hulle duime op in die lug wys.  As dit verkeerd is, moet hulle duime af wys.
Bv.  1. Daar was eendag ‘n koning met die naam van Amon en hy was ‘n baie goeie koning. (duime af)
2. Hy het ‘n seun gehad wat net 8 jaar oud was toe hy koning geword het.  (duime op)
3. Hierdie seun se naam was Josia en hy het in die Bybel of boekrolle geglo wat vir hom voorgelees is. (duime op)
4. Hy het toe al die mense van sy volk bymekaar geroep en vir hul laat luister na die Woord van die Here.  (duime op)
5. Josia het toe vir die mense wat na die Woord geluister het, gesê hulle moet nie na die woorde luister nie en kan maar bly sonde doen. (duime af)
 
Sing die lied:  “I believe the Bible (3x) is the Word of God”  
 


 

 


 

 

 

 

 


Kleuter Liedere:   
1.  Visvang vir Jesus (2x)  Visvang vir Jesus elke dag. Met die Bybel in die hand, kaalvoet op die strand.  Visvang vir Jesus elke dag. (Wysie: Lees jou Bybel)
2.  Song:  “Cast and catch for God”.  (Tune: “Farmer in the Dell”)
I’ll cast and catch for God (2x) I’ll show His love to everyone.  I’ll cast and catch for God.
I’ll go and fish for God (2x) I’ll share His Word with everyone.  I’ll go and fish for God.
3.  Lied om by handwerk-hart te pas:  (Wysie: “Farmer in the Dell”)
Aan U beloftes hou ek vas (2x) Hul leer my om aan U vas te hou .  Dankie liewe Heer. 
Handwerk: Knip rooi harte uit rooi stywe karton(een vol hart en een se boonste punt afgesny)  en kram of plak hul aanmekaar met boonste deel oop.  Druk 2 gaatjies in elke hart bo-aan en ryg lintjie deur.  Lank genoeg dat kinders dit aan hul deur handvatsel kan hang. 
Skryf of maak kaartjie met woorde:  Psalm 119:11 “Aan U beloftes hou ek vas”  en plak aan voorkant van hart.  Kleuters kan die harte versier met plakkertjies of sterretjies. 
Binne in hart kom ‘n strook met 6 beloftes wat hul kan versier en vou en prentjies by teken:  bv. 


1 Joh. 4:8

God is liefde

Ps. 56:12 ....ek is nie bang nie

Ps. 23:1  Die Here is my Herder 

Hebr. 13:6 Die Here is my Helper

Ps. 55:23   ..Hy sal vir jou sorg

Hand. 16:31 Glo in die Here Jesus
Moedig kleuters aan om saans die tekste deur te gaan en te kyk of hul al 6 kan memoriseer
Bybellesuur vir kleuters oor die Bybel                                                                     (Mnr. Sam Doherty se les 2 uit die boek “The Bible”)
Opening:  Verwelkom kinders en laat hul gaan na die verskillende speelhoekies:  klei speel waar hul ‘n Bybel kan maak;  boeke waar hul boeke kan deurkyk;  legkaarte wat hul kan pak; ou tydskrifte waaruit hul prente kan knip en ‘n prent kan maak deur op skoon papier kan plak.
Sang:  Sing bekende liedere wat kinders ken.  Maak kaartjies van al die liedere en hou in ‘n blik.  Laat ‘n paar kinders uit blik ‘n kaartjie uithaal en die betrokke lied word gesing.
Memoriseervers:  Johannes 17:17 “U Woord is die waarheid”.  Verduidelik wat “waarheid” beteken.  Laat kleuters dit herhaal deur 5 vingers in lug te hou en 1 vinger per woord af te buig na handpalm en in vuis te eindig.  Dan weer vanaf vuis vingers op te hou tot hele hand oop is. 
Gebed: Hemelse Vader ons loof U vir die Bybel, want dit is die Waarheid.  Help ons om die Bybel te glo en dit elke dag te lees.  In Jesus se Naam.  Amen.  

Bybelles:   Die Bybel is die Woord van God                           

 Inleiding

(Pak ses verskillende Christelike boeke insluitende ‘n Bybel op ‘n tafeltjie uit sodat die kinders dit maklik kan sien en hanteer) Watter een van hierdie boeke is die mees spesiaalste boek? (Hulle sal waarskynlik se die Bybel…Laat die kinders toe om klomp redes te noem hoekom hulle so dink)  
1.Die Bybel is God se Woord  -  Wys die Bybel en of Flitskaart 2-1
Hoekom is die Bybel dan belangriker as al hierdie ander boeke? Hierdie boeke gaan dan ook oor God en vertel vir ons baie dinge omtrent God? (wys na die ander boeke op die tafel en bespreek hulle titels)
Daar is duisende boeke al geskryf wat gaan oor God en ook oor die Bybel maar weet julle daar is nie een ander boek soos die Bybel nie. Al hierdie boeke is deur mense geskryf, maar die Bybel is God se boodskap aan ons en Hy het self hierdie woorde gegee. As ‘n mens praat dan kom daar asem uit jou mond uit…probeer dit gou, hou jou handjie voor jou mond – se almal saam “Bybel”, voel julle daar kom asem uit. In 2 Timoteus 3:16 sê dit dat al die woorde in die Bybel,  uit God se mond en asem kom. (Onderwyser kan die Old King James Vertaling dalk lees) Daar is geen ander boek soos dit nie.
Die Bybel se woorde is God se Woorde en dit is hoekom mense soms die Bybel die “Woord van God” noem!
2. Die Bybel is deur mense geskryf:   Wys prent van iemand wat skryfwerk doen of Flitskaart 2-4
God is so slim dat Hy jare gelede besluit het dat Hy sy boodskap aan ons wil laat neerskryf sodat elke mens dit kan lees en in hulle hande kan vashou. (Hou ‘n Bybel op jou skoot en wys telkens daarna terwyl jy praat) Hy het 40 verskillende mense gekies om Sy woorde vir Hom neer te skryf. Die 40 manne was baie interessante manne, een van hierdie manne was ‘n Koning die ander een ‘n boer en ‘n ander een ‘n visserman. Een van hulle was ook ‘n dokter. Die Here is so lief vir verskillende mense Hy gebruik enige persoon vir Sy werk. Dink net, dalk kan die Here jou ook eendag gebruik vir Sy werk. Wie van julle sal ook graag deur God gebruik wil word vir iets spesiaals?
Nou ja, hierdie veertig verskillende mans het gaan sit en presies neergeskryf wat God vir Hulle gese het. 2 Petrus 1:20-21 vertel vir ons dat God se Heilige Gees letterlik deur hulle hande en gedagtes gewerk het om God se woorde neer te skryf. Hulle was betroubaar en versigtig.  
Iemand wat ‘n boek skryf word ‘n Outeur genoem. Sjoe dis ‘n groot woord. Sê dit gou saam met my- “Outeur”! Nou, God is die Outeur van die Bybel want Hy het dit geskryf. Tog was daar veertig manne wat dit geskryf het.
Nou wil ek sien hoe slim is julle. Hoeveel skrywers was daar? 40 Hoeveel outeurs? 1
 Die Bybel is oorspronklik in twee verskillende tale geskryf. Party van die veertig mans het in Hebreus geskryf en party in Grieks. Kan julle die snaakse twee tale saam met my sê –“Hebreeus en Grieks” , maar vandag kan ons die Bybel ook in ons eie taal lees want God het slim mense gehelp om Sy oorspronklike Woorde dan ook mooi oor te skryf in baie ander tale. Watter taal praat julle? Afrikaans! Ja, God wil ook hê dat ek en jy wat Afrikaans of Engels of Xhosa  praat, Sy Woorde kan lees!  
3. Die Bybel is 100% waar:    As God die Outeur van die Bybel is beteken dit ook dat daar geen foute in die Bybel is nie! Mense maak soms foute, maar God is so slim Hy kan nie eers foute maak nie. Dis darem wonderlik om te dink die Bybel het geen foute nie. Alles wat uit die boek kom kom uit God se mond en ons kan dit maar glo.
Al die Bybelstories wat jy al gehoor het is die waarheid. Dit het regtig gebeur.
Kan julle dink aan stories wat sommer speel-speel is? (gee hulle geleentheid om ‘n paar op te noem en bespreek dit)
Die Bybel is nie soos daardie stories nie, dit is alles die waarheid! Johannes 17:17 se “U Woord is die waarheid” 
 4. Ken die Bybel:  Ons Moet soos die seuntjie in die prentjie wees en die Bybel ken. God het hierdie boek vir elkeen van ons gegee omdat Hy vir ons van Sy liefde wil vertel. In die Bybel kan ons lees van Jesus wat vir ons sonde aan die Kruis betaal het en wat weer uit die dood uit opgestaan het. Die Bybel leer vir ons dat as ons in Jesus glo  ons God se kinders kan word en dat Jesus al ons sonde kan vergewe. Ons leer ook hierin van die hemel. As jy nie ‘n Bybel het nie en jy het nog nooit verstaan hoe jy ook ‘n kind van God kan word nie, dan kan jy ook vandag met my kom gesels na die klas en dan sal ek vir jou lees en help uit die Bybel uit.
  Lied: Lees jou Bybel, bid elke dag!
 Sluit af met lied as ‘n gebed:  Ek glo die Bybel (3x) is die Woord van God.

Bybellesuur vir kleuters – 5 maniere wat God met ons praat
(Ridri de Beer het die Bybelles van Mnr. Sam Doherty se boek "The Bible" van hierdie lesuur vereenvoudig sodat kleuters dit makliker kan verstaan)

1.  Verwelkom kleuters by deur en sit naamkaartjies aan en laat hul na ‘n leeraktiwiteit-hoekie gaan om vooraf dinge te doen wat met les te doen het. Laat hul boekies deurblaai in “boekhoekie” met Bybelverhale – bespreek dit met hulle.  Laat hul prente teken of verf by “kunshoekie” van Bybelverhale wat hulle ken en plak op teen muur.  Laat hul in “sandput-hoekie” ‘n stad bou soos dit in Jesus se tyd was – platdakhuise en mannetjies met kopdoeke en donkies vir vervoer. 

2.  Opruimtyd:  Sing lied: Opruimtyd (2x)  Pak alles weg (2x)  Kom dan almal hierheen (2x)  Ons gaan lesse hoor(2x) (Vader Jakob se wysie)

3.  Sang:  Begin solank sing sodra almal voor by jou is. 

3.1 ‘n Lied soos “God made the mountain tops, and God made the trees, God made the fish that swim and God made the seas.  God made the birds that fly and God made the bees, but the best of all, the most wonderful of all is God made me.”  Laat hul eerste keer net met gebare sing, sonder woorde.  Tweede keer net met gebare en neurie en derde keer met gebare, en woorde sing.

3.2   Sing: My B-Y-B-E-L het my van God vertel.  Ek kan dit glo, want die Woord sê so.  My B-Y-B-E-L.

3.3   Ek glo die Bybel (3x) Is die Woord van God.
Ek glo in Jesus (3x)  Hy’s die Seun van God
Jesus sterf vir sondaars (3x) Jesus sterf vir my
Jesus Christus leef weer (3x) En Hy leef vir my
Eendag sal Hy weer kom (3x) om vir my te haal

4.  Bid saam.  Tel voor jy bid:  1 – almal moet hande in lug steek.  2 – almal moet hande vou. 3 – almal moet oë toemaak.

5.  Memoriseervers:  2 Tim. 3:16a “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde”.  Verduidelik wat beteken geïnspireer – (die Heilige Gees het vir al die skrywers gesê wat hul moet skryf) en waarde – (dit is vir jou baie beter om die Bybel te besit en te ken as om ‘n klomp geld te hê, want die Bybel verduidelik vir jou hoe om in die Hemel te kom waar jy vir altyd by God sal wees). 

6.   Bybelles:   God praat met ons op 5 maniere

Inleiding

Hoe weet jy dat jou Mamma en Pappa lief is vir jou?

Hulle gee vir jou drukkies, hulle sorg vir jou, gee vir jou kos en klere en se ook gereeld vir jou dat hule jou baie lief het. God Het elkeen van julle ook baie lief en praat met ons op spesiale maniere sodat ons kan weet hoe Hy oor ons voel.

Hou ‘n Bybel op en verduidelik:

Die Bybel vertel vir ons hoe groot en wonderlik die Here is maar ons moet baie mooi luister. Die Bybel leer ook vir ons van onsself en omdat ons sondige mense is hoor en sien ons nie altyd die dinge wat God vir ons sê en wys nie.

As jy die boek van Mnr. Doherty het  - wys  eerste flitskaart, anders hou jou ore toe en vra vir hulle wat sal gebeur as jy die hele tyd so loop?  Neem ‘n lap en bid jou oë toe en vra vir hulle wat sal jy kan sien van God se wonders, as jy heeldag so loop?  Absoluut niks.

Ons gaan vandag van 5 maniere leer hoe God met ons praat! Kan julle gou saam met my tot vyf tel?  1,2,3,4,5!!!

Eerste manier hoe God praat:  Skepping(flitskaart 2)

God praat met ons deur Sy skepping, -deur alles wat Hy gemaak het. As ons in die aand kyk na die biljoene sterre en die goud geel maan, dan wys dit vir ons hoe groot en fantasties die Here is dat Hy so iets kon maak. (indien moontlik bring ‘n blom na die klas en laat die kinders daaraan ruik) Die blomme wat so lekker ruik vertel vir ons dat God hou van klein mooi dingetjies wat lekker ruik en het dit vir ons gemaak sodat ons dit kan geniet! Wow die Here is wonderlik. Die donderweer en weerlig vertel ons hoe kragtig en sterk die Here is, Hy kan enige iets doen.

Sing lied:  He made the stars to shine

Tweede manier:  God praat deur sy sorg (flitskaart 3)

God praat met ons deur Sy sorg. Het julle almal vanoggend ontbyt gehad? Vra die kinders om te sê wat hulle als die dag al geëet het. Weet julle dat God al hierdie kos vir ons gee! Die boere plant die vrugtebome maar dis God wat sorg dat dit reen sodat die bome kan groei en dat die vrugte begin groei en ryp word sodat ons dit kan eet. God sorg ook vir al die diere..vir elke hasie en elke leeu, self vir elke wurmpie en by, sodat hulle genoeg kossies het. Op watter maniere sorg God nog vir julle? Help die kinders om self antwoorde te gee, bv. huise, klere, ouers ens. God wys vir ons hoe lief Hy ons het deur so mooi vir ons te sorg. Ons moet dit raaksien en waardeer!

Sing lied:  Dankie Vader (2x) Vir ons kos (2x) En al U sorg (2x)  Amen – (Vader Jakob se wysie)

Derde manier: God praat deur ons gewete (flitskaart 4)  God praat met ons deur ons gewete. Wat is ‘n gewete? Die Bybel, in Romeine 2:14-15 vertel vir ons dat God ietsie spesiaals in elke mens se hartjie gesit het wat vir hom vertel wat reg en verkeerd is. As ons ietsie doen wat verkeerd is soos om miskien met ons vetkryte teen die muur te skryf as Mamma nie sien nie, dan is daar ietsie diep binne in ons harte wat ons laat skuldig voel want ons weet dis verkeerd. God praat met ons daardeur want vir God is dit belangrik dat ons nie aspris (moedswillig) verkeerde en slegte dinge doen nie, ons maak net ander mense hartseer daardeur en dit pas glad nie by ‘n kind van God nie.

Dis darem lekker om te weet dat God soveel vir ons omgee dat Hy op so ‘n spesiale manier ook vir ons help om altyd liewer mooi dinge te doen as slegte dinge!

Vierdie manier:  God praat met ons deur sy Seun Jesus – wys ‘n kruis (flitskaart 5)

God praat met ons deur Sy Seun, Jesus. Toe Jesus op aarde geleef het voordat Hy hemel toe is het Hy baie wonderwerke gedoen. Kan julle enige van Jesus se Wonderwerke opnoem?  Gesels bietjie met die kinders oor ‘n paar wonderwerke wat opgenoem is…God vertel vir ons van Sy krag, liefde en omgee deur van die werke wat Hy gedoen het!

Die grootste wonderwerk is ook dat Jesus vir jou en my so lief was dat Hy aan die kruis doodgegaan het om vir ons sonde te betaal en toe weer uit die dood uit opgestaan het! Sjoe, hierdeur vertel God vir ons so baie…Hy het ons so lief dat Hy Sy eie seun sou gee sodat ons eendag saam met Hom in die Hemel kan gaan woon! WoW!

Toepassing op ongelowige kind: As jy nog nooit vir Jesus gevra het om jou sonde ook te vergewe nie, en jy Hom nog nie die Koning van jou hart gemaak het nie dan moet jy ook mooi luister na wat God vandag vir jou sê. Hy wil graag hê dat jy ook vandag Sy kind moet word.   Jy kan nou waar jy sit vir die Here vra om eers jou sonde te vergewe, want Jesus kan nie in ‘n lewe kom wat vol sonde is nie.  Dan kan jy vir Hom vra om in jou lewe te kom woon en vir jou te help om reg te lewe.  So te leef soos die Bybel vir jou sê.

Toepassing op gelowige kind:  Jy wat in Jesus glo en vir Hom liefhet, kan vandag dankie sê dat die Here vir jou help en wys hoe Hy elke dag met jou praat.  Vra ook dat die Here vir jou sal help om vir ander mense te vertel van hoe God vir jou sorg en vir jou help.

Vyfde manier:  God praat met ons deur die Bybel – Hou Bybel op of wys flitskaart 6

God praat ook met ons deur die Bybel. Die Bybel is ‘n boek wat deur mense geskryf is maar weet julle wat is die mees fantastiese ding omtrent die Bybel, wat dit anders maak as enige ander boek op aarde? –God self het elke woordjie van die hele Bybel presies net so vir spesiale mense gegee wat dit toe presies neergeskryf het net soos God dit gegee het! Ongelooflik!

Lees vir die kinders uit die Bybel -2Tim3:16a “Die Hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde”

Ons moet die Bybel lees elke dag, want as ons dit lees dan is dit asof God direk met ons praat. Dis darem wonderlik! Wie van julle het ‘n Bybel by die huis? Julle moet vir julle Mammas en Pappas vra om  elke  dag vir julle daaruit te lees.  

Wat gebeur as ‘n mens Bybel lees en bid?  Die lied sê ons groei geestelik.

Kom ons sing die lied saam:

 Lees jou Bybel, bid elke dag, bid elke dag, bid elke dag.

 Lees jou Bybel, bid elke dag en jy sal groei, groei, groei

 En jy sal groei, groei, groei (2x)

 Lees jou Bybel, bid elke dag en jy sal groei, groei, groei.

7.    Hersieningspeletjie:

Kom ons tel gou weer almal saam tot by vyf en dan kyk ons of ons al vyf maniere kan onthou waarop God met ons praat!  1. Skepping – vertel van paar dinge?  2.  God se sorg – vertel van paar maniere?  3. Deur ons gewete – noem ‘n voorbeeld?  4.  Deur Jesus – noem paar voorbeelde van wonderwerke  5.  Deur Bybel – sê memoriseervers op – 2 Tim. 3:16.

Maak 10 ewe groot kaartjies met dieselfde kleur.  Skryf op 5 die nommers 1-5 en op die ander vyf is daar prente geplak of geteken 1. ‘n prent van God se skepping – berge, bome, blomme, diere en mense 2. Kind by ouers met huis en kos 3. Kind wat iets verkeerd doen en skuldig lyk 4. Kruis 5. Bybel.  Plak kaartjies op bord deurmekaar en as kind vraag geantwoord het, kan hy/sy 2 kaartjies omdraai.  As die 2 bymekaar pas kan hul afgehaal word.   
(Die kaartjies kan ook opgesit word op bord met nommers en prente na bo soos jy met les aangaan)
 
 

8.   Sluit af met gebed.  Almal kan bid en net in ‘n sin vir die Here baie dankie sê dat Hy met ons almal op hierdie 5 maniere praat en vir ons moet help om in die week te kyk en luister hoe Hy met ons praat.

9.   Deel broodjies uit en laat kleuters speel of teken tot ouers kom om hul te haal. 

 

KLEUTERONDERRIG:  

  1. Leeraktiwiteite en leersentrums 
Daar is 7 verskillende aktiwiteite wat gebruik kan word om voor of na die Les-program om kleuters te help.  Hierdie aktiwiteite help om die Bybelles vas te lê voor of na die lesse aangebied is.  

1.     Blokkies-sentrum – waar kleuters met blokkies kan bou of speel

2.     Natuur-sentrum – sandput waar hul met plante of klippe kan speel en ‘n plaas maak

3.     Musiek-sentrum – musiekinstrumente waarmee kinders kan speel

4.     Boek en prente sentrum – boeke op tafels waar kinders kan sit en lees

5.     Speletjies en legkaart-sentrum – op kind se vlak waar hy kan speel en bou

6.     Huislewe-sentrum – pophuis met kombuisgereedskap en poppe waar kleuters kan speel

7.     Kunssentrum – waar papier, kwasse, kryt en verf is vir kleuters om te verf

Hoekom hierdie leersentrums?  

a.     Hul help die kleuter om te leer – hul leer deur spel

b.     Die leidsters leer kinders persoonlik ken

c.     Dit benadruk die Bybelles se lering

d.     Kind hersien daar wat geleer is

e.     Kinders werk onafhanklik en in groep

f.      Leer kinders om verantwoordelikheid te neem en bevele uit te voer

g.     Leer kinders om besluite te neem ( watter kleure om te gebruik  vir inkleur bv.)

h.     Ontwikkel kinders se talente en leer hom nuwe tegnieke

i.      Kinders leer selfvertroue en kreatiwiteit

j.      Betrek kinders by interessante en genotvolle aktiwiteite

 

2.  Bybelverse vir kleuters  


Leer kleuters eenvoudige Bybelverse.

Gebruik IPEAR-metode van Child Evangelism Fellowship:  I vir Introduction; P vir presentation; E vir explanation; A vir Application; R vir Repetition.  

  1. Inleiding(Introduction) – vertel iets interessant om by vers aan te sluit, bv. as jy vers aanleer soos Hebr. 13:6 “Die Here is my Helper, ek ken geen vrees nie.”, kan jy begin deur vir hulle te vra of hulle al bang was.  Laat hul daaroor gesels.
  2. Aanbieding (Presentation) – Verduidelik vir kinders dat in die Bybel is daar ‘n vers waar die Here vir ons troos en sê ons hoef nie bang te wees nie.   Lees vers uit Bybel.  Laat kinders vers herhaal soos jy dit lees.
  3. Verduidelik (Explain) – verduidelik moeilike woorde bv. “vrees” is om bang te wees. Laat kinders vers weer herhaal.
  4. Toepassing op gelowige en ongelowige kind. (Application) – pas vers toe op kind.  Vir julle wat glo in Jesus en Sy kind is, julle kan vashou aan hierdie belofte van die Here dat Hy vir jou in alles sal help.  Miskien is hier iemand wat nog nie in Jesus glo nie. Jy het vandag ‘n kans om vir Jesus aan te neem, sodat jy Sy kind kan wees en ook hierdie belofte vir jou kan aanneem.
  5. Herhaling (Repetition)– maak gebruik van interessante herhalings:
5.1          Eggo-berg:  jy sê woord en kinders herhaal dit.
5.2          Radio - Kinders sê vers op en as jou hand opgaan, word radio harder en moet hul harder opsê.  As jy jou hand laat sak, word radio sagter en moet hul sagter opsê
5.3          Speel tennis – speel tennis met teks – Jy sê een woord en kinders sê volgende woord, weer jy ‘n woord en kinders volgende tot einde van vers.
5.4          Wasgoedlyn – skryf woorde van teks op kledingstukke van papier en hang op aan wasgoedlyn met pennetjies.  Hang was goed op soos hul teks sê en haal dit af soos hul teks opsê.
5.5          Kleure – almal wat iets wit aan het, moet teks opsê; almal met iets groen aan moet teks opsê, ens.
 

3.  Liedere vir kleuters  

Leer liedere aan wat eenvoudig is, maklike wysies, genotvol, betekenisvol en leer kind iets daardeur.

Leer ook aan met  CEF se IPEAR-metode  

Liedere oor gebed:

Onse Vader hoor ons gebede

Hoor ons gebede, hoor ons gebede

Onse Vader hoor ons gebede

Hy is in die hemel

(Londond bridge)
      

Ons almal sing ons loflied (3x)

Ons almal sing ons loflied

 Want Jesus het ons lief

  (Mary Had a little lamb)

     

Sê vir God jy het Hom lief

Sê vir  God jy’s jammer

Sê wat jy nodig het

En dank God elke dag

(Jesus loves me koortjie)

 

Vou almal jul hande

      Buig nou  jul koppe

      Maak jul toe oë

      Ons gaan met God praat

      (God is so good)

 

4.    Dissipline:   Drie faktore wat kinders se gedrag bepaal

4.1          Vlak van ontwikkeling – fisies, emosioneel, sosiaal,  verstandelik

4.2 Hul persoonlike ervaring – as kleuter nie by huis liefde kry nie, sal hy aandag en liefde soek.

4.3 Hul betrokkenheid by volwassenes

 

Hoe word dissipline gehandhaaf? Gee duidelike verwagtings of reëls en herhaal dit gereeld: 

a.        Jy mag jouself nie seermaak nie,

b.        jy mag ander nie seermaak nie en jy mag dinge nie seermaak nie.

c.        Luister mooi

d.        Nie praat as groot mense praat

e.        Steek op hand as jy iets wil sê

f.         Gee aandag

g.        Hou hande vir jouself – nie baklei

Doel van dissipline is om kleuter selfbeheersing te leer en nie om mag uit te oefen oor die kleuter nie.

 

5.    Bybelles:   Dit is die belangrikste deel van die kleuterkerk en moet deeglik voorberei word. Gebed vooraf, gedurende en na die tyd!

 

5.1          Lees Bybelgedeelte deur en maak opsomming van karakters,

  gebeure, tyd en plek

5.2          Maak lys van gebeure

5.3          Maak lys van waarhede in gedeelte – praat God met gelowige of ongelowige, is dit ‘n evangeliese of ‘n groei waarheid.  Skryf hoofwaarheid neer en fokus daarop in Bybelles.

5.4          Pas die Bybelles toe op die kind.  Kyk wat is probleem in Bybelles en wat is die oplossing vir probleem en pas dit toe op kind se lewe.

5.5          Soek prente wat pas by les en bied les visueel aan en laat kleuters dwarsdeur die les deelneem.  Laat hul herhaal wat karakters sê of saam stap of saam kamma eet, ens.  Laat hul ook tussenin sing of strek om hul groot spiere te beweeg!

 

 

KLEUTERONDERRIG:

Om kleuters te kan onderrig, moet ons weet wat hul karaktertrekke is, hoekom hulle so is en hoe ons  hulle moet onderrig:  
Karaktertrekke van KLEUTERS:
Hoekom is KLEUTERS so:

 
Hoe moet ons KLEUTERS onderrig:
  1. Aktief
  2. wil gedurig beweeg - groot aksies, 
  3.  klein handspiere begin ontwikkel
  4.  wil homself was en trek homself aan
  5.  gebruik kort sinne
  6.  verstaan nie tyd en distansie nie
  7.  leer deur sintuie
  8.  hulle is skaam of spontaan,
  9.  raak gou verveeld
  10.  is kreatief
  11.  hou van musiek, hou van sing
  12.  vra baie vrae
  13.  is trots op wat hy/sy kan doen
  14.  verbeelding is goed
  15.  gooi maklik tou op
  16.  dra stories aan
  17.  glo wat hy/sy vertel word
  18.  begin dink vir hom/haarself

 
Groot spiere groei vinnig,
klein spiere ontwikkel,
hulle doen graag dinge wat ander plesier,
sy woordeskat brei uit,
hulle dink konkreet,
raak aan goed om te verstaan,
hulle persoonlikhede ontwikkel,
aandagspan is baie kort,
bou of maak graag dinge,
ritme ontwikkel,
geniet deelname en luister na musiek,
nuuskierig en wil weet,
wil graag aanvaar word,
leer deur speel,
as hulle nie iets goed kan doen nie, wil hulle ophou,
hulle verstaan wat is reg en wat is verkeerd,
hy vertrou volwassenes,
hulle leer wat is probleme en wat is die oplossings

 
1.  Baie Aksies en aktiwiteit in klaskamer
2.  Plek vir beweeg
3.  oefen fyn handspiere,
4 . laat hulle opruim
5.  gebruik kort sinne en verduidelik moeilike woorde
6 . wys voorwerpe waarvan jy praat
7.  gebruik hulpmiddels wat hulle kan sien, voel, hoor, ruik en proe
8.  prys God vir sy skepping en help hom om te sosialiseer
9.  beplan lesuur met baie aktiwiteit
10. gebruik handwerk wat by les aansluit
11. stel hulle bloot aan baie musiek, laat hulle baie sing
12. antwoord vrae eenvoudig en stuur hul in rigting wat met les te doen het,
13. moedig hulle aan en prys hulle
14. spandeer tyd met hulle en luister na hul stories
15. leer hulle dat die Bybellesse waar is en dat ons daaruit moet leer
16. leer hulle om nuwe dinge te probeer en moedig hulle aan terwyl hul dit probeer
17. omdat hulle straf verstaan kan ons hulle leer van ons sonde waarvoor Jesus gesterf het
18. leer hulle om God te vertrou, vra vrae om hulle te laat dink bv. “wat dink jy van …..?”
 




In ‘n neutedop:

Die voorskoolse kind leer deur hul sintuie,

leer deur spel en

leer deur Rympies, Ritme en  Herhaling

 

KLEUTERKERK OF KLEUTERKLUB:

  1. Kinders word opverdeel in 4 groepe en soos hulle aankom, word hulle verwelkom en na hul groepies verwys.  Elke groep het ‘n naam en naamkaartjie wys duidelik watter groep hulle is bv.:  Rooi, wit, groen en geel soldaatjies.  Dit sal goed wees as leidster ook dieselfde identifikasie-kaartjie dra.
  2. Elke Sondag is 5 persone aan diens.  Een neem leiding en 4 helpers – een per groep.  (indien van die ouers wil bly, is hulle welkom, mits hulle help!!)
  3. Elke helper moet presies weet wat van haar verwag word, bv. help kinders om in die sentrum dinge te doen wat hulle voorberei vir les en laat hulle deel wat hulle die afgelope week beleef het.  As klokkie lui, moet kinders opruim en bymekaarkom vir les.  Sit asb. tussen hulle tydens les en help met aktiwiteite gedurende die les en met dissipline.  Na die les word hulle geneem na hul sentrum om aktiwiteite te doen waarmee les vasgelê word.
  4. Elke helper word ook versoek, om terwyl die les aan is, te bid dat die Heilige Gees sal werk in die kinders se harte.  Bid ook asb. gereeld vir elke Sondag se program en vir voorbereide harte van die kinders.  Bid ook vir gereelde bywoning van gesinsdienste.

Aktiwiteite met les oor Die Skepping

 Vooraf-aktiwiteite:

Sandput by elke groep.  Kinders speel met bome, plante, gras, water, diere, mense

Helpers gesels met kinders oor God se skepping en hoe Hy alles geskep het.  Laat hulle vertel van wat hulle alles by die huis het.

Die wat klaar is, kan prent van skepping inkleur

Open met gebed en verwelkoming

Sang:

God is so goed;
He made the stars to shine;
Kop en Skouers (met handbewegings - op Wysie van  London Bridge is falling down):

1. Kop en skouers knieë, tone, knieë tone, knieë tone
Kop en skouers, knieë tone, God het my gemaak
2.  Hande, ore, neus en mond, neus en mond, neus en mond (2x)
God hou my gesond!
 
Bybelvers om te memoriseer:  Gen. 1:1

Bybelles en aktiwiteite:

Vertel Gen. 1 van hoe God alles in 6 dae gemaak het en wys prente en selfs prente wat hulle ingekleur het.

Terwyl jy vertel, laat kinders deelneem aan skepping met gebare en lyfbewegings

Eerste dag – lig en donker (Hou oë toe en maak oop)

Tweede dag – Hemel en aarde   - wys na hemel en na aarde

Derde dag – see, land en plante - wys hoe branders beweeg en plante groei

Vierde dag – son, maan en sterre – Sing weer lied: “He made the stars” met bewegings

Vyfde dag: Visse en voëls – laat hul lied sing:  Daar’s vissies in die water….

Sesde dag:  Skep van diere en eerste mens– laat hulle diere-geluide namaak of speel geluide op kasset en hulle moet raai wat dit is.  Laat hul lied sing: “Die Here het vir my gemaak…”

Sewende dag met rus:  Laat hulle op rug lê en rus en na mooi musiek luister

Buite-speel:

Wys hulle op alles wat buite is wat God gemaak het

Om met maats te speel is ook van God – leer hulle om saam te speel bv. Kat en muis of vrot-eier

Verversings:  Gee aan kinders iets om te eet – lekker of vrug of toebroodjie

 

Laat hulle aan legkaarte bou of klaar inkleur of lees vir hulle ‘n storie tot ouers kom. 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap