Wednesday 11 December 2013

Kerstafel- en kersboomversierings vir gelowiges

KERSTAFEL:
Versier jul Kerstafel met die 5 kleure (goud, swart, rooi, wit en groen); van die Woordlose boekie van Child Evangelism Fellowship.  Dit is die Evangelieboodskap van Kersfees.

  1. Kry ‘n wit laken of tafeldoek en gooi oor tafel. 
  2. Maak rooi karton of  materiaal harte en gebruik vir plekmatjies by elkeen se plek by die tafel.
  3. Gebruik ‘n groen of rooi of wit eetservies en dek vir elkeen ‘n groot bord en sybordjie.  Dek messe en vurke en nagereg-lepels.
  4. Plaas glase aan bokant van messe en plaas servette (rooi en wit inmekaar gevou soos waaiertjie) in glase.
  5. Maak ‘n paar harte van swart(donker)  en wit papier  en plaas aan kante van tafel.
  6. Plaas goue kartonsirkels in die middel van die tafel en daarop groen blare soos “ivy”-blare.  Spuit dennebolle met goue spuitverf en plaas tussen blare.
  7. Gebruik kershouers of klei en plaas rooi, groen en wit en swart(donker)  kerse tussen blare. 
  8. Kry goue lint en sit dit van die middel van tafel vanaf blare na die sybordjies by elkeen se gedekte plek. 
  9. Op die bordjies kan jul in plaas van kersklappers ‘n mooi toegedraaide pakkie met lekkergoed plaas.
  10. Plaas 5 Bybeltekste in klein bordjies wat elkeen tydens die vertel van die Kersverhaal  gelees kan word.. (Joh. 3:16, Rom. 3:23, 1 Kor. 15:3 en 4; Joh. 1:12 en 2 Pet. 3:18)

Begin die ete met ‘n vrugtekelkie  wat bestaan uit vrugte met die 5 kleure nl. rooi waatlemoenballetjies, swart druiwekorrels, groen druiwekorrels, geel spanspekballetjies en wit appel, peer en lietjies. Dien dit op vanuit ‘n uitgeholde halwe waatlemoen.  Versier met kruisementblare. 

VERTEL NOU DIE KERSVERHAAL MET 5 KLEURE VAN WOORDLOSE BOEK EN WYS NA DIE KLEURE OP DIE TAFEL:
1.  Goud:  die goue kleur van die lintjies en die dennebolle herinner ons daaraan dat God ons Koning is.  Hy woon in die Hemel en Hy het vir ons almal gemaak.  God is ook ‘n Heilige God d.w.s. Hy het geen sonde nie.   Hy is ‘n God van liefde – lees Joh. 3:16 (a).
Hy wil graag hê dat ons in die Hemel saam met Hom moet woon.

2.   Die donker kleur:  Die donker harte herinner ons daaraan dat ons in sonde ontvang en gebore is.  Adam en Eva het gesondig in die paradys en omdat ons almal kinders is van Adam en Eva is ons almal sondaars – lees Rom. 3:23.  Wat is sonde?  Noem voorbeelde.  Wat doen sonde?  Skei ons van God en maak ons ongelukkig.  Definisie van sonde is:  Alles wat ek dink, doen of sê wat nie vir God aanneemlik is nie of dit wat ek nie doen wat God wil hê nie, is sonde.   Met my sonde kan ek nie in die hemel woon nie, daarom het God ‘n plan gemaak.

3.  Rooi:  die rooi harte en kerse en servette herinner ons daaraan dat God ‘n plan gemaak het.  Die plan is om vir ons Kersfees te laat vier.  Met Kerstyd dink ons aan God se plan om vir Jesus Christus na die aarde te gestuur het.  Jesus is in Bethlehem gebore uit ‘n jong meisie Maria.  God die Vader is Jesus se pa en sy aardse pa se naam is Josef.  Die eerste mense wat gehoor het van Jesus se geboorte, is die herders op die velde van Bethlehem wat hulle skape opgepas het.  Die engele het aan hulle verskyn en vir hulle vertel.  Hulle het haastig na Bethlehem gegaan en alles net so gekry soos die engele vertel het.  Hulle het na die besoek aan almal begin vertel van die Verlosser wat vir ons gebore is.   Die wyse manne uit die ooste het gekom om aan Hom hulde te bewys.  Die geskenke wat hulle gebring het, het gewys wie Hy is:  Goud – Hy is ons Koning;  Wierook – Hy is ons Hoëpriester wat vir ons intree by die Vader; Mirre – Hy sou sterf vir ons sonde en sy bloed sou vloei sodat ons verlos kan word van ons sonde.

Jesus se kruisdood toe Hy so 30 jaar oud was, was God se plan sodat ons van ons sonde verlos kan word.  Lees 1 Kor. 15:3 en 4 en Joh. 3:16.

4. Wit(skoon):  Die wit kleur van die harte en kerse en servette vra vir my dat ek elke dag my sonde sal bely.  Dat ek in Jesus my Verlosser sal glo en vir Hom sal dankie sê dat Hy my sonde weggeneem het aan die kruis en vir my skoon en rein maak soos die skoon harte.  Lees Joh. 1:12 en gee tyd vir stilgebed sodat elkeen opnuut hul sonde kan bely en elkeen opnuut hy/sy lewe  kan oorgee aan Jesus.  Laat elkeen Joh. 1:12 opsê met sy naam daarin.

5.  Groen:  Die groen kleur van die blare herinner my daaraan dat ek as ‘n gelowige moet groei en toeneem in kennis van die Here.  Lees 2 Pet. 3:18.  Hoe kan ek groei as ‘n gelowige kind van die Here?  Bybellees, bid, getuig en vir ander vertel van Jesus, my sonde bely en saam met gelowiges kerk toe gaan en Hom aanbid.

Laat iemand of ‘n paar bid  en vir God loof vir Kersfees en wat dit beteken.  Vra dat God vir julle sal help om geestelik te groei as sy kinders.  

VERSIER JOU KERSBOOM MET DIE 5 KLEURE:

  1. WEEF GOUE LINTE DEUR TAKKE VAN BOOM OF HANG GOUE STERRE OF GOUE GLASBALLE AAN BOOM – WAT VERTEL VAN GOD SE LIEFDE EN HEILIGHEID. – JOH. 3:16
  2. HANG SWART HARTE AAN TAKKE – WAT VERTEL VAN SONDIGE MENS – ROM.3:23
  3. HANG ROOI KARTONKRUISIES OF HOUT KRUISIES EN ROOI STRIKKIES AAN BOOM – DIT VERTEL VAN JESUS WAT DIE SONDE VAN DIE MENSE OP HOM KOM NEEM HET AAN DIE KRUIS – 1 KOR. 15:3-4
  4. HANG WIT HARTE AAN BOOM – HIERDIE HARTE VERTEL VIR MENSE WAT HUL SONDE BELY EN  VIR JESUS AANNEEM AS HUL VERLOSSER EN VRIEND DAT HY AL HUL SONDE WEGNEEM EN HUL WITTER WAS AS SNEEU – JOH. 1:12
  5. HANG GROEN KARTON HANDJIES AAN BOOM MET NOMMERS 1 – 5 OP VINGERS VAN HANDJIES – HIERDIE HANDJIES VERTEL DAT KINDERS VAN GOD GEESTELIK GROEI.  VIR GEESTELIKE GROEI IS DAAR 5 NOODSAAKLIKHEDE: 1 – LEES JOU BYBEL; 2 – BID GEREELD; 3 – VERTEL VIR ANDER MENSE VAN JESUS; 4. BELY JOU SONDE DADELIK AS JY WEER SONDE DOEN; 5. GAAN SAAM MET GELOWIGES NA ‘N EVANGELIESE KERK.

 

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap