Thursday 26 September 2013

Routyd na 'n geliefde oorlede is

Toe my ma in 2001 as weduwee agtergelaat is op die ouderdom van 80 jaar, was dit vir haar ‘n pynlike ervaring.  Ek het verskillende boeke gelees oor rousmart en die volgende 6 punte daaruit saamgestel en vir haar in ‘n brief gestuur sodat sy dit kon lees en toepas. 
Een van CEF se voltydse werkers in S.A. is verlede Sondag oorlede op die ouderdom van 42 jaar aan leukemia.
Dit is goed om te weet hoe routyd verloop sodat ‘n mens jouself kan verstaan en die agtergeblewenes kan bystaan.  

Fase 1:  Die skokfase.  Jy het gedurig ‘n hol kol op die maag, kry kouekoors en voel siek.  Nou het jy behoefte aan goeie luisteraars, mense wie vir jou omgee en nie veel praat nie, maar net simpatiseer en jou omarm.  

Fase 2:  Die afgestomptheid-fase:  Alles lyk onwerklik.  Jy kan nie helder dink nie en dinge maak nie sin nie.  Jy vergeet alles en voel afgestomp – amper wêreldvreemd.  Die wêreld gaan aan, maar dit voel of jy nie wil aangaan nie.  

Fase 3:  Die Fantasie en skuldgevoel-fase:   Jy voel die oorledene sal na ‘n tyd terugkom.  Dit is asof alles maar net ‘n fantasie was en alles sal weer regkom.  Jy voel ook skuldig omdat jy nie meer gedoen het nie.  Jy moes meer aandag aan die oorledene gegee het en hom of haar meer vertroetel het.  

Fase 4:  Ontlading van droefheid – dit is die fase wanneer jy besef die oorledene sal nie weer terugkom nie en nou is jou pad vorentoe alleen.  Jy wil sommer net huil en huil en huil.  Alles is net te veel!  

Fase 5:  Pynlike herinneringe:  Hierdie fase kan maande duur, maar jy sal die herinneringe, goed of sleg, in die oë moet kyk en dit verwerk.  Deel dit met iemand betroubaar en gesels daaroor.   Skryf neer wat vir jou pla en bid daaroor.  

Fase 6:  Leer om weer te leef -  Die verlies van ‘n lewensmaat is soos amputasie.  Jy moet erken jy het iets verloor soos ‘n arm of been en moet nou weer leer om daarsonder klaar te kom.   Aanvaarding is nodig.   Staan elke dag op en loof die Heer dat jy soveel het om voor dankbaar te wees.  Loof Hom vir Sy goedheid en guns.  Loof Hom vir jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders.  Loof Hom vir ‘n huis wat afbetaal is.  Loof Hom vir die voorsiening wat jou lewensmaat gemaak het dat jy sonder sorge kan leef.

Loof God dat Jesus Christus sy lewe afgelê het sodat die ewige lewe vir jou en jou man moontlik is en dat jy jou lewensmaat weer gaan sien en vir ewig saam met Christus sal wees.  

Begin bid vir ander mense wat in ‘n soortgelyke situasie verkeer.  Onthou Job se lot het verander toe hy vir sy vriende begin bid het.

Lees en hou vas aan die beloftes van die Bybel.  Ps. 23 se beloftes van die Here wat jou Herder is en jou sal lei en bewaar sodat jy niks sal kortkom nie, is baie kosbaar.

 

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap