Sunday 1 September 2013

LENTE

IDEES vir Lentetyd!

Vandag is amptelik "lentedag" in Suid-Afrika. Ons kan saam met die voëls sing en die Here loof vir die pragtige bloeisels en blomme en mooi natuur.

In die Kaap is die berge wit van die sneeu, maar oral is tekens van die lente wat aanbreek.  Voëls maak neste en broei op eiers, die bome het lentebloeisels en nuwe blare is oral aan bome te sien.  

1. LENTETEKS:  Hier is die mooiste lenteteks in die Bybel:       “Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan.  Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land.”       Hooglied 2 verse 11 en 12  

2. LENTE IN JOU LEWE:  In C.S. Lewis se boek “The Lion, the Witch and the Wardrobe”, praat hy oor die Leeu, Aslan, wat die winter doodmaak en lente laat aanbreek.  (The author, C. S. Lewis, described Aslan as an alternative version of Christ.)   Die oomblik wat jy vir Jesus aanneem as jou Verlosser, breek lente in jou lewe aan: 
“Wrong will be right, when Aslan comes in sight,
At the sound of his roar, sorrows will be no more,
When he bares his teeth, winter meets its death,
And when he shakes his mane, we shall have spring again.” 

3. LENTEBLOMME en hul boodskap: 
LELIES:   Die lelies se boodskap is dat ons rein moet wees, dit beteken ons moet mooi van binne wees.  Ons moet aan mooi dinge dink, mooi dinge sê en mooi dinge doen.  Dit kan ons net doen as Jesus in jou lewe is. 
Matt. 5:8  “Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”.
SNEEUKLOKKIES:  Sneeuklokkies met hul koppies wat so hang,  sê ons moet sagmoedig wees.  Dit beteken ons hoef nie kwaad te raak as iemand met ons raas nie, maar ons moet luister en ook jammer sê as ons verkeerd gedoen het. Jesus sê in   Matt. 11:29 “Leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van  hart.
VERGEET-MY-NIETJIES:   Vergeet-my-nietjies sê vir my ek moenie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie.  Hebr. 13:16 “Moenie nalaat (vergeet) om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.”
GESIGGIES:  Gesiggies sê ek moet vriendelik wees en vir ander aansteek met my vriendelikheid.  Fil. 4:5  “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.” (Ou vertaling)
SONNEBLOMME: Sonneblomme sê ons, as kinders van God,  moet ons lig laat skyn soos die son.  Matt. 13:43  “Dan sal die gelowiges in die Koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.”
ROSE:   Rose sê ons moet ‘n heerlike geur versprei – dit beteken dit wat ons doen, moet mense gelukkig en bly maak, maar veral vir God bly maak.  Fil. 4:18  “Julle gawe is voor God ‘n offer met ‘n lieflike geur vir Hom aanneemlik en welgevallig.”  

4. BLOMME-BOEKMERKIES 
Julle kan boekmerkies maak met blomme wat julle daarop teken of verf of julle kan dit op die rekenaar ontwerp.  Skryf van die Bybelverse hierbo daarop neer en oorhandig dit aan vriende of familie.  Julle kan dit selfs met ‘n besoek aan Oupas en Oumas in ‘n Aftree-oord gaan oorhandig.  

5. LENTE PIEKNIEK:
Hou een Saterdag of Sondag i.p.v. normale ete ‘n piekniek by die see of in ‘n Natuurreservaat.
Verdeel in twee spanne en kyk wie kan die meeste plante teken by die natuurreservaat of wie kan die meeste kleure sien soos julle langs die see stap.
Julle kan selfs net by jul huis bly en ‘n piekniek in die tuin hou.
Beplanning vir ‘n piekniek:  Neem ‘n reisdeken.  Pak ‘n mandjie met eetgerei en  berei die  volgende lente-geregte voor:  

* Lente-mengelslaai:   Kook 1 kop. Noedels, dreineer en laat afkoel.  Sny die volgende groente en vrugte in blokkies en voeg by: blaarslaai-blare, groenrissie, radyse, komkommer, tamaties, pietersielie, appels, pynappel, gekapte neute, sout.  Meng alles liggies en voeg  slaaisous by.   Versier met kappertjie-blomme-dit is baie gesond om ook te eet! Smeer broodrolletjies en eet saam met slaai.
* Lente-vrugtepons deur verskillende vrugtesappe te meng, (bv. 1 kop. Lemoensap,  1 kop. Appelsap) voeg 2 kop. Koue rooibostee daarby.  Gooi kruisementblare en ysblokkies daarby.  Lemonade daarby is baie lekker.
* Lente vlatert.  Neem ‘n blikkie kondensmelk en verdik met ½ kop. Suurlemoensap.  Maak vla of koop ‘n houer vla.  Neem 1 pakkie marie- of tennisbeskuitjies  en pak ‘n laag onder in ‘n plastiek-bak.  Bedek met kondensmelk-mengsel en daarna vla. Pak weer ‘n laag beskuitjies, weer kondensmelkmengsel en weer vla. Neem rooi en groen kersies - sny dit in agstes en maak blommetjies daarvan om bo-op te versier.  
6. LENTE SPELETJIES: 
1.  “Marshmallow”-fluit speletjie:
Verdeel in 2 spanne.  Elke span kry dieselfde aantal marshmallows of as daar te min is om in spanne te verdeel, kan tyd gehou word.
Elkeen moet ‘n “marshmallow” eet en dan ‘n bekende deuntjie fluit, bv. “vader Jakob”.  Sodra klaar, kan hy die volgende “marshmallow” eet en weer deuntjie fluit.  Span wat eerste klaar geëet en deuntjies gefluit het, is die wenner!  

2.  Bladwisselende bome:  Verdeel in 2 spanne – knip blare uit koerantpapier.  Gee aan elke span papierblare en kleeflint.  Elke span kies iemand van  span wat ‘boom’ moet wees.  Gebruik horlosie met sekondewyser en iemand hou tyd – 60 sekondes.  Tydhouer laat span aan werk spring en papierblare moet aan “boom” geplak word – net aan arms, bene en voete.
Na 60 sekondes gee tydhouer, instruksies en bome moet 5 keer in die rondte draai, 5 keer op en af spring, en 10 keer op een been spring.
Tel hoeveel blare bly oor aan “boom” – die een met meeste blare is wenner!  

3.  Alfabeties kry elkeen ‘n kans om met sy mond ‘n item uit die natuur te teken.  Die ander moet raai wat dit is en kyk wie het op die ou end die meeste punte.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap