Thursday 8 August 2013

VROUEDAG VROUEMAAND

Vroue:    Augustusmaand en in besonder 9 Augustus dink ons aan vroue!   Die Hemelse Vader het die vrou geskape as ‘n hulp vir die man, die draer van nuwe lewe en 'n boodskapdraer van die blye Evangelieboodskap aan die wêreld.  

Die Afrikaanse digter  DJ Opperman het die vrou so beskryf: “My nooi is in n naartjie, my ouma in kaneel. Daar’s iemand… iemand in anys. Daar’s n vrou in elke geur.”

VROUENS HOU VAN GEURE EN KLEURE EN GEE GEUR EN KLEUR AAN DIE LEWE OM HUL!

Daar is ‘n spreuk:    “The hand that rocks the cradle, rules the world.” 
Dink aan die vroue wat in jou lewe ‘n groot rol gespeel het om jou groot te maak en met jou opvoeding gehelp het en wat in jou geestelike lewe ‘n groot rol gespeel het?   Sien jy liewe gesigte?  Kinders van die Here gesigte? Of sien jy slegte gesigte?  Kinders van die duiwel gesigte?
Loof die Here vir vroue:  oumas, mammas, susters, onderwyseresse, Sondagskool-onderwyseresse,  wat  deur hul  voorbeeld  goeie rolmodelle  was en is en op wie se voorbeeld ons kan voortbou .    Bid vir die vroue wat nie ‘n voorbeeld is nie en deur hul voorbeeld ander tot struikeling bring.  Bid dat die Here in hul lewens sal ingryp.

Wat leer die vroue in die Bybel vir ons oor ‘n betekenisvolle  lewe:

  1.  Leef in ‘n  verhouding met die Here en geniet jou verhouding met die Here!     Die verhaal van Martha en Maria – Lukas 10:38-41 leer vir ons wat is die belangrikste.    Martha was baie besig om alles reg te maak en het gewoel en gewerskaf.  Sy vra toe vir Jesus of dit Hom nie hinder dat Maria nie ook help nie.  Jesus antwoord toe vir Martha dat Maria die beste deel gekies het naamlik om by Jesus se voete te sit, want dit sal nie van haar weggeneem word nie.                                                                                                                                                                         Maak erns met jou geestelike lewe as vrou – sit by die voete van Jesus, werk aan jou verhouding met die Here, maak tyd vir jou stiltetyd - hierdie tyd sal nie van jou weggeneem word nie.

  1. Leef Spreuke 31 se praktiese riglyne uit in jou huis:  Maak jou huis ‘n goed georganiseerde, lekker plek!!
2.1    Wees ‘n steunpilaar in jou huis sodat jou  man  op jou kan staatmaak
2.2    Werk  vlytig soos handelskepe en bring kos van ver af in – doen inkope met oordeelkundigheid en  begroot goed
2.3    Maak goeie, gesonde kos vir jou huisgesin – selfs as dit nog nag is
2.4    Maak jou huis ‘n aangename plek vir jou werksmense en behandel hulle goed
2.5    Wees ‘n interprenieur en verdien self geld en koop selfs grond – stel vas of wins goed is
2.6    Mag jou  hande  vir niks verkeerd staan  nie!  Leer nuwe metodes en vaardighede aan
2.7    Leer handvaardighede aan om jou besig te hou en maak self goed vir jou huis bv.
           laslappie-komberse,  maak dinge vir jou huis en organiseer jou huis goed en netjies
2.8    Wees sensitief vir die armes en gee vir mense in nood – al is dit net ‘n glimlag en ‘n
              traktaatjie
2.9     Sorg vir jou gesin vir warm klere en wees sensitief vir jou gesin se behoeftes – moenie
             oordadig klere koop nie
2.10   Beplan goed vir die toekoms vir jou en jou gesin saam met jou man en laat dit in die
              Heer se hande en wees sonder sorge daaroor 
2.11     Bid vir wysheid en praat met wysheid en gee leiding met liefde – hou huisgodsdiens waar jul saam soek vir wysheid hoe om reg te leef.  Hou huisvergaderings waar jul kan praat oor jul huisreëls
2.12   Wees die vrou en ma wat deur die Here gebruik word om in jou huis  deur  jou  eie
            man bewonder  en deur jou eie  kinders geprys word!

Daar is ‘n gesegde:  “Op straat is jy ‘n engel juis, maar wees dit tog ook in jou huis!”

  1. Voed jou kinders  geestelike  so op dat hulle die blye Bybel-boodskap verder kan dra:    
            Twee vroue in die Bybel wat  genoem word omdat hul geestelike opvoedingstaak so suksesvol was, is Timoteus se ma en Ouma – in 2 Tim. 1:5 sê Paulus “Ek dink aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Louïs en in jou ma Eunice was en wat, daarvan is ek  oortuig ook in jou is.”
Hierdie voorbeeld van hierdie ouma en ma het daartoe gelei dat Timoteus by  Paulus in Derbe aangesluit het  en hom vergesel het na verskillende gemeentes waar hulle die mense in die geloof versterk het en die getal gelowiges by die dag groter geword het.  Hand. 16:1-5.

SENDINGSTASIE-HUISE:   Daar is deesdae so baie kinders wat nie hierdie voorreg het van Timoteus om deur hul eie ma’s en ouma’s geleer te word hoe om die Here te dien nie.  Maak van jou huis ‘n sendingstasie.  Bied aan jou buurt se kinders die geleentheid om in jou huis ‘n Bybelklub by te woon waar jy vir hulle van die Here vertel.

VERSKRIKLIKE MOONTLIKHEID:      In Ps. 78:1-8 verduidelik Asaf aan die volk hoe belangrik dit is om aan die volgende geslag te vertel van die groot dade van God – dit is ‘n bevel van God om aan ons kinders en kleinkinders van God te vertel.  As ons dit reg doen en die Heilige Gees verlig hul harte dat hul in God kan glo, sal hulle in staat wees om dit weer aan hulle kinders te vertel sodat hulle ook op God kan vertrou.  In vers 8 word genoem dat as dit nie so oorvertel word dat die kinders kan onthou van God se dade van trou nie, dan word hul ‘n ongehoorsame, opstandige volk wat nie aan God getrou is nie.

VROUE, BID DAT HIERDIE MOONTLIKHEID WAT ORAL GESIEN WORD – OPSTANDIGE, ONGEHOORSAME KINDERS, ONTROU AAN GOD - OMGEKEER KAN WORD DEUR ONS GEBEDE, VOORBEELD,  WYSHEID EN LERING!


 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap