Monday 12 August 2013

Bybellesuur: Paulus se bekering


Program:

1.     Verwelkom kinders en laat hul aan voorafaktiwiteit deelneem soos boeke lees by die boeke-hoekie, met speelgoed speel, blokkies bou of ‘n prent van Paulus inkleur.

2.    Opruim:  Laat kinders alles opruim en voor jou kom sit op mat of stoele.

3.    Liedere:  Begin deur die Here te loof met verskillende lofliedere:  Loof Hom met die tromme,  My God is so groot, God is so goed, He made the stars to shine, ens.

4.    Bid ‘n openingsgebed of laat kinders die Onse Vader gebed stadig en saggies opsê.

5.    Bybelles:  Hand. 9:1-19 (Gebruik ‘n vierkantige blok wat jy maak van ‘n kartondoos of materiaal en aan elke kant is ‘n simbool om Evangelieboodskap toe te pas op kinders soos les aangaan.  Eenkant ‘n goue sirkel as jy van God praat, een kant ‘n donker hart as jy van sonde praat, eenkant ‘n rooi kruis as jy van Jesus praat, eenkant ‘n skoon hart as jy van sondevergifnis praat en groen boompie aan een kant as jy van geestelike groei praat).

5.1  Inleiding:  Hou 2 briewe op en sê vir kinders in een van die briewe is goeie nuus en in een is slegte nuus.  Watter brief sal jy kies?  Natuurlik die goeie nuus.

5.2  Verloop van verhaal:   Ek gaan vir julle vertel van ‘n man wat vir ‘n brief gevra het met slegte nuus.  Kom ons lees wat staan in die brief.  (Maak eerste brief oop en lees)  “Paulus, jy moet na Damaskus gaan en al die Christene daar na die tronk in Jerusalem bring, want hulle is slegte mense.”

5.3  Paulus het toe met ‘n hele paar manne by hom vertrek na Damaskus om hierdie verkeerde ding te gaan doen.  Iemand wat vir mense in die tronk wil gooi omdat hul in Jesus Christus glo, doen verkeerd.  Dit is sonde.

5.4   (Wys donker hart op vierkant)  Weet julle wat is sonde?  Doen julle ook verkeerde dinge?  Nie soos Paulus miskien, maar ander dinge soos lelik praat of ongehoorsaam is aan Pappa en Mamma – ja dit is sonde.  Sonde is enigiets wat jy dink of doen of sê waarmee jy vir God hartseer maak.  Ons is almal met sonde gebore en sonde maak skeiding tussen jou en God.  In die Bybel in Rom. 3:23 staan daar dat almal gesondig het en ver van God is.

5.5  Paulus het sonde in sy lewe gehad en daarom wou hy die mense in Damaskus gaan vang.  Terwyl hulle so op pad is na Damaskus, het daar skielik ‘n helder lig van die hemel geskyn en ‘n stem het uit die hemel gepraat.  Paulus het op die grond geval.  Die stem het gevra:  “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?”  Paulus het verskrik geroep:  “Wie is U Here?” en die stem het geantwoord:  “Ek is Jesus.  Dit is vir My wat jy vervolg.”  (Kinders kan hierdie toneeltjie dramatiseer:  laat hul loop en as jy ‘n flitslig aansit, moet hul op grond val en praat jy met hul en moet hul antwoord.)

5.6  (Wys kruis op vierkant)  Ek en jy weet wie Jesus is, Jesus is gebore in Bethlehem.  Hy het gesterf aan ‘n kruis op Golgotha.  Jesus se bloed het uit die wonde gevloei en sy liggaam is doodgemaak vir ons sonde.  Hy het al ons skuld op Hom geneem.  In 1 Kor. 15:3-4 staan dat Jesus gesterf het volgens die Skrifte, maar ook weer opgestaan het na 3 dae.  Hy leef nou in die Hemel by God sy Vader waar Hy besig is om vir ons plek voor te berei en ook vir ons intree as ons bid.

5.7  Die stem uit die Hemel het vir Paulus gesê hy moet opstaan en na Damaskus toe gaan en daar sal hy iemand ontmoet wat God na hom sal stuur om met hom te praat oor wat om nou te doen.  Toe Paulus opstaan kon hy glad nie sien nie, hy was blind.  Die mense by hom moes hom lei na die stad toe.  Paulus het vir drie dae gebly in die stad en niks geëet of gedrink nie.  Paulus het seker net gedink aan alles wat hy gedoen het wat verkeerd was en gebid om vergifnis van al sy sonde.

Lied:  Kom ons sing die lied:  As ek hartseer raak of iemand maak my kwaad dan begin ek dadelik te bid sodat God my bly kan maak.  (Wysie van “My B-i-b-l-e).  As jy ‘n kind van God is, kan jy altyd na God kom as jy hartseer of kwaad is en tot Hom bid en vra vir hulp en Hy sal dit doen.

5.8  (Wys goue sirkel op vierkant)  God praat met Ananias, hy was ‘n volgeling van Jesus, in ‘n droom.  God sê vir hom om na Reguitstraat te gaan na die huis van Judas en daar sal hy vir Paulus kry wat besig is om te bid.  Ananias moet vir hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.  Die Here het ook vir hom gesê dat Hy vir Paulus in ‘n gesig gewys het dat Ananias sal kom.

5.9  Wat ‘n wonderlike God  - Hy sorg vir Paulus.  Net so sorg Hy elke dag vir jou en my.  Jer. 31:3 sê dat God  jou nog altyd liefgehad het en daarom verdra Hy jou met geduld.  God het vir ons die Bybel gegee – dit is die brief met goeie nuus.  Hierin lees ons hoe God alles gemaak het – Hy is ons Skepper.  God is ‘n Heilige God en kan nooit verkeerde dinge doen nie.  God woon in die Hemel en wil graag hê jy moet saam met Hom daar woon, maar God haat sonde en daarom het Hy, omdat Hy ‘n God van liefde is,Sy Seun Jesus gestuur om vir ons sonde te kom sterf.    Hierdie wonderlike God het vir Paulus gehelp.

5.10       Ananias was eers bang vir Paulus, want hy het gehoor hoe Paulus die Christene vang en selfs van hulle al doodgemaak het.  God het vir hom verseker dat Paulus verander het en dat God hom nou gaan gebruik om aan heidennasies en konings en ook aan die Israeliete Sy Naam uit te dra.

5.11       Ananias het vir Paulus gebid en hande opgelê en Paulus kon weer sien. Hy het geëet en sterk geword.  (Laat kinders broodjies eet saam met Paulus)  Hy is gedoop en van toe af het hy nie meer die slegte brief nodig gehad nie (skeur brief op), maar het hy die boodskap van die goeie brief – hou die Bybel op – verkondig.  Hy het oral begin preek en baie mense het in Jesus geglo na Paulus se boodskappe.  

Lied:  Ek glo die Bybel (3x) is die Goeie brief.  

Toepassing op gelowige kind:  Ananias het vir Paulus gebid en vir hom gehelp en Paulus kon nou vir ander van Jesus vertel, want hy het nou in Jesus geglo!  Glo jy in Jesus?  As jy in Hom glo en Hy in jou lewe is, wil die Here hê dat jy soos Ananias en  Paulus vir mense van Hom moet vertel en hulle na Hom moet lei. (wys groen boom op vierkant – dui op geestelike groei).  

Toepassing op ongelowige kind:  As jy nog nie in Jesus glo nie, kan jy dit nou doen.  Jy kan met my kom praat na die tyd dan wys ek vir jou uit die Bybel en met hierdie vierkant hoe jy in Jesus kan glo.  Ek sal hier by die tafel wees na ons klaar is en dan kan jy met my kom gesels.  

Lied:  “Vertel ek 2 mense, vertel jy 2 mense dan weet nog 4 mense van God”  

Hersieningspeletjie:  Laat kinders in kring staan en die vierkant in die middel van kring gooi.  Die kant wat bo is, moet hulle verduidelik wat dit sê van Paulus se lewe en ook wat dit sê van hul eie lewe.  

Gebed:  Sluit af met gebed in die kring.  Kinders kan net in 1 sin die Here loof vir hul bekering of bid vir ander se bekering.

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap