Wednesday 5 June 2013

DIE 7 AFDELINGS VAN DIE ONSE VADER GEBED

Noudat ek afgetree het by Child Evangelism Fellowship en die leisels oorgegee het, het ek myself begin afvra wat gaan ek nou doen wat vir die Koninkryk iets beteken.  Behalwe om my dogter te ondersteun met die Kinderevangelisasie-bediening deur te help kursusse aanbied en na haar kinders te kyk wanneer sy verpligtinge het, het die Here my baie aangespreek met die lees van die boeke van Andrew Murray oor “Die belangrikheid van Intersessie”.  Ek kan bid vir al die projekte en vir al die kinders van ons omgewing en die hele wêreld.
Ons weet dat die oomblik wat jy vir Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, woon die Heilige Gees in jou en is jou liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees.  Hierdie tempels van die Heilige Gees moet tempels van gebed wees.  Ons moet bid dat die Here vir ons deur die Heilige Gees  sal leer hoe om gedurig te bid en in Sy teenwoordigheid te wees.
Uit die Onse Vader gebed wat ons lees in Matt. 6:9-13, leer Jesus vir die dissipels en vir ons hoe om te bid.
1.  Die persoon van die bidder:  Net kinders van God kan hierdie gebed bid, want ons begin die gebed met “Onse Vader”.  As ons glo in Jesus Christus en Hom aangeneem het, sê Joh. 1:12 het ons die reg om te sê ons is God se kinders.   As ons God se kind is, uit genade, help die Heilige Gees ons om tot ons ABBA VADER te bid – Rom. 8:15.  “Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “ABBA” – dit beteken Vader.  Die Heilige Gees lê ook behoeftes en nood op ons harte waarvoor ons moet bid.  Mnr. Overtholzer, die stigter van Child Evangelism Fellowship het daagliks gebid vir die kinders van die wêreld met die aardbol voor hom.
2.  Wat is die doel van gebed:“Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied”.   In Joh.  4:34 het Jesus gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te voltooi.”   Wat is hierdie werk?  Om die Koninkryk uit te brei.  Hoe kan ons dit doen?  Bid vir God se wil en werking deur die Heilige Gees in ons lewens, ons gesin se lewens, gemeenskap en verder.  Hoe meer ons oorgee aan God en ons verdiep in Sy Woord, hoe meer word God se wil, God se begeertes ons begeertes.  (Rom. 8:26-27)  Hierdie begeertes bid ons dan terug na God en vra dat Sy Koninkryk sal kom. 
3.  Die Voorsiening vir die bidder:  Elke dag word vir ons ons daaglikse brood  en krag om te werk deur ons Hemelse Vader voorsien.  Fil. 4:19 sê dat ons Vader vir ons in oorvloed gee – Hy voorsien in ons  fisiese behoeftes, maar ook in ons geestelike behoeftes deur ons te voed met die Brood van die Lewe.  Hy voorsien in ons emosionele behoeftes deur mense oor ons pad te stuur wie vir ons liefhet en ons emosioneel versorg.  Hy voorsien in ons intellektuele behoeftes deurdat ons verstandelik geprikkel word deur die Woord of deur al die inligting wat ons inneem – ons moet ook bid dat die Heer ons sal lei na die regte inligting, bv. dat ons die regte boeke sal lees.  Boeke van Spurgeon, A.w. Pink, Andrew Murray, John MacArthur, C.S. Lewis, John Piper en Albert Mohler is aan te beveel.
4.  Sondebelydenis:  Ons leer in Matt. 6 dat ons moet bid dat ons Vader ons ons sonde moet vergewe.  Om na ons Hemelse Vader te kom, beteken dat ons na ‘n Heilige God gaan – ons Skepper God wat die Hemel en die Aarde gemaak het en dit in Sy hand hou en daaroor regeer.  Hy duld nie sonde nie en ons moet na God kom en vra dat Hy ons sonde sal bedek met die Bloed van Jesus Christus.  Ons moet ook altyd onthou dat dit net genade is dat die Here ons ons sonde vergewe.  In Deut. 9:4-6  het die Here vir die Israeliete vertel hoe hardkoppig hulle is en dat dit uit genade is dat Hy hul help en seën.  Ons mag nooit vergifnis ligtelik opneem nie.  Daar is nie iets soos goedkoop genade nie.  In diepe afhanklikheid moet ons kniel by die kruis en die Here Jesus Christus loof omdat Hy ons pad na God oopgemaak het met Sy Kosbare bloed wat ‘n dure prys gevra het.
5. Die beskerming van die bidder:  Ons moet bid “lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose”. Ons aartsvyand, die Satan, kan nie vir God aanval nie, Hy is te swak daarvoor, daarom loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind.  Jesus se voorbeeld in die woestyn toe die Satan Hom probeer versoek het, moet ook ons voorbeeld wees.  Jesus het die Satan elke keer geantwoord:  “Daar staan geskrywe....”  Ons kan hom slegs oorwin met die Swaard van die Gees – die Bybel wat deel is van ons wapenrusting volgens Efes. 6: 10 – 19 en met die bloed van die Lam:   Openb. 12:11 “Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig.”
6. Die lofprysing van die bidder:  Die Onse Vader gebed begin en eindig met lofprysing:  “Laat U Naam geheilig word en Aan U behoort die Koninkryk en die Krag en die Heerlikheid tot in Ewigheid.”  Gebed moet in geloof gedoen word en geloof kom tot uiting in ons LOFPRYSING.  Dawid begin bid in Ps. 13 en vra vir die Here hoe lank hy nog moet wag – dit kan die wagkamer Psalm genoem word.  Hy praat met die Here oor die wag en die probleme as gevolg daarvan, maar dan skielik verander die aanslag in die Psalm as hy begin dink aan die Here se troue liefde. Vs. 6b “Oor die uitkoms wat U gee, juig my hart”! Die laaste vers in Ps. 13 is ‘n loflied:  “Ek wil sing tot eer van die Here omdat Hy aan my goed gedoen het.”
7.  U en ek wat tempels is van die Heilige Gees, moet so leef dat ons ons Heilige God kan  verheerlik in alles en veral in ons gebede.
Die dissipels het gewag en gebid totdat die Heilige Gees uitgestort is en hulle kon blymoedig en met groot vrymoedigheid aan almal die Evangelieboodskap verkondig sodat duisende tot bekering gekom het.  Ons as bidders wat gevul is met die Heilige Gees omdat ons kinders van God is deur ons geloof in Jesus Christus kan vir duisende voorbidding doen sodat die Koninkryk uitgebrei kan word.   Begin vandag bid vir jou eie Jerusalem – familie, vriende;  Samaria – jou dorp;  Judea – jou land en  tot die uiteindes van die Aarde.  Bid dat die wêreld ge-evangeliseer sal word, bid vir al die mense wat die Here na omgewing stuur. Bid vir die kinders van die wêreld dat hulle tot geloof in Jesus Christus sal kom.

WENK: Skaf vir jou ‘n gebedsjoernaal boek aan en skryf alles neer waarvoor jy voorbidding doen.

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap