Wednesday 6 August 2014

Vrouedag - die resep vir die voortreflike vrou!

DIE SPREUKE 31 VROU  -  DIEN DIE HERE

Ons vroue is oor die algemeen baie lief vir resepte.   Ek maak graag makarolletjies, omdat my kleinkinders baie lief is daarvoor en omdat ek dink dit is gesond!  Bestanddele is ½ kop. melk, 1 ½ suiker, ½ kop. margarine, 3 eetl.. kakao, 1 kop. klapper, 3 kop. hawermout en vanilla geursel. Metode:  Kook eerste 4 bestandele vir 5 minute.  Roer laaste 3 bestandele by en skep lepelsvol op waspapier. Wat sal gebeur as ek i.p.v. melk asyn insit, misluk!!                                                                                                                                      Die gelowige vrou se resepteboek is die Bybel.  Ons Bybel gee vir ons die resep hoe om te lewe.   Die beste resep van hoe om vrou te wees kry ons in Spreuke 31, waar Lemeul die Hebreeuse Alfabet geneem het en by elke letter geskryf het hoe ‘n volmaakte vrou lyk. (Miskien kan ons manne die alfabet neem en kyk of jul by elke letter ‘n deug kan neerskryf van jou ma of vrou of dogter – ek het by x geskryf – die soentjies waarmee die briewe wat my ma aan my geskryf het, ge-eindig het en by z geskryf zero tyd vir die duiwel!) Kom ons kyk na die bestanddele van die resep van ‘n voortreflike vrou!  
Dink aan jou eie vrou, jou ma, jou dogters of kleindogters en kyk of die bestandele in hul lewens teenwoodig is en bid dat die Here hul daarmee sal help!  Gelukkig gee ons resepteboek, die Bybel nie net die bestandele van ‘n voortreflike vrou nie, maar ook die metode hoe om so te wees! 

DIE RESEP VIR DIE GELOWIGE VROU:  Sit ‘n oggend opsy en gaan deur die resep en lees al die gedeeltes in die Bybel en vra die Here moet jou help om die vrou te wees wat leef volgens Sy resep in die Bybel.


Bestandeel
                                                          Metode
GELOOF  Spr.31:29-31

Wat geloof aanbetref is die gelowige vrou ‘n vrou wat die Here ken, ‘n verhouding met HOM het en Hom dien met haar hele hart, siel en verstand. Matt. 22:37; Spr. 31:29-31. Ps. 119:33 – 40 is haar gebed.  .  Die hoofbestanddeel in haar resep vir die lewe is die kruis van JESUS CHRISTUS.  Hy help haar om die wedloop te hardloop met volharding en met die oog op Jesus gevestig – Hebr. 12:1-3 

HUWELIK Spr.31:11-12; 23
Wat haar huwelik aanbetref het sy respek vir haar man – sy bring vir hom voordeel en nie nadeel nie haar hele lewe lank  en haar man steun op haar.   As jy nie getroud is nie, moet jy weet Jes. 54:5 sê “Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige”.  Jou man die Here steun op jou om vir Hom voordeel in te bring en nie nadeel nie.  Omdat die huwelik ‘n instelling van die Here is, kan net Hy vir jou help om van jou huwelik ‘n sukses te maak – bid baie daaroor.

MOEDER-SKAP                   Spr. 31:27-28
Wat haar moederskap aanbetref – leer sy haar kinders in die weë van die Here en met die liefde van Jesus Christus.  Sy dissiplineer haar kinders met wysheid en liefde volgens die voorskrifte van die Bybel en hulle prys haar – Deut. 6: 6-7;   Vroue sonder kinders bid vir kinders van familie of vriende.

GESOND-HEID                    Spr. 31:14-15
Die deugsame vrou pas haar liggaam op.  Sy berei gesonde kos voor vir haar familie en doen moeite om dit goed voor te berei. Sy weet ook haar gesondheid is ‘n gawe van die Here en weet haar liggaam is ‘n tempel van die Here, daarom moet sy haarself oppas. – 1 Kor. 6:19-20. 

DIENS-LEWERING Spr. 31:20
Die deugsame  vrou dien haar man, familie, vriende, bure met liefde en vriendelikheid.  Sy het ‘n oop hand vir die armes en behoeftiges en volg  in haar Leermeester – Jesus Christus se voetstappe.    Haar gebed vir mense om haar is Paulus se gebed dat hul God sal ken -  Efes. 3:14-21 

FINANSIES   Spr. 31:16
Sy begroot en gebruik geld met oorleg - sy koop selfs grond en sit dit onder wingerd.  Sy weet dat haar begroting haar tiende vir die Here insluit en het ‘n oop hand vir die Heer se werk omdat alles wat sy besit van Hom af kom. 

HARDWER-KEND               Spr. 31:13; 17-19
Sy geniet dit om te werk en haar hande staan vir niks verkeerd nie.  Sy kla nie omdat sy hard moet werk nie, want sy sien haar werk as ‘n gawe van die Here en doen alles om Hom te verheerlik.    Die van u wat nie meer hard kan werk nie, loof die Heer dat u kon hard werk en bid vir u kinders en kleinkinders dat hul hardwerkend sal wees. Joh. 6:27 – ons moet werk vir voedsel wat nie vergaan nie – skatte in die Hemel bymekaar maak! 

TUISTE-SKEPPER    Spr.31:21-22
Haar huis is ‘n hawe in die storms vir haar man en kinders en nie ‘n storm in die hawe nie.    Sy sorg dat hul warm is in die winter en alles het wat hul nodig het en dat almal tuis voel en gelukkig is by haar.  Haar helpers in  en om die huis is gelukkig, want sy sorg goed vir hulle. Sinclair Ferguson sê die Heilige Gees is soos ‘n tuisteskepper – Hy berei ons harte voor dat dit ‘n heerlike tuiste moet wees vir die inwoning van die Here. Vra jouself af of die Heilige Gees in jou woon en jou help om jou lewe voor te berei vir die ewige lewe? 

KOMMER-VRY                 Spr. 31:25-26
Die deugsame vrou se krag en inspirasie kry sy van die Heer.  Sy vind tyd om stil te word by die Here en al haar kommer en sorge aan Hom bekend te maak sodat sy geen kommer oor die toekoms hoef te hê nie. Die Here gee vir haar wysheid hoe om reg te praat en reg te handel.    Sy lag oor die dag wat kom, want haar visie is die ewige lewe wat reeds begin het toe sy vrygemaak is van sonde en in diens van God gestel is. Rom. 6:22-23 

SKOONHEID Spr. 31:30
Die deugsame vrou se skoonheid is nie uiterlik nie, want dit vergaan.  Haar skoonheid is innerlik -  Spr. 31:30.  Sy is soos ‘n boom wat geplant is by ‘n waterstroom waarvan die blare nie verdroog nie - Ps. 1. Haar boom dra die vrugte van die Gees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Gal. 5:22 



Spr. 31:10 – “meer werd as edelstene”  John Pijper sê:  Spreuke 31 is geskryf asof die skrywer ‘n string pêrels inryg om vroue te inspireer om die voortreflike vroue te wees wat die Here begeer, vroue wat Hom dien en eer.  Dit is ook om ander mense aan te moedig om vroue wat die Here dien te prys en dit is om vir ons te wys dat gelowige vroue geprys moet word!                                                                                    
Kom ons sluit af met die Onse Vader gebed wat ons almal saambid en vra die Here dat die 7 bedes in ons waar sal wees: 

1. Sy Naam geheilig sal word deur ons  
2. Sy Koninkryk sal kom deur ons
3. dat die Heer se wil sal geskied in ons lewens 
4. dat Hy vir ons ons daaglikse brood sal gee 
5. ons sal vergeef van ons sondes en nie in 
6. versoeking sal lei nie en 
7.ons sal verlos van die Bose.  Amen


No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap