Sunday 13 April 2014

PAASFEES


Openb. 5:13  “Aan Hom wat op die troon sit en die Lam kom toe al die lof en heerlikheid, krag en eer vir ewig en ewig!”
Mag God die Hemelse Vader jou hierdie Paastyd op ‘n baie spesiale manier seën met Sy teenwoordigheid, vrede en vreugde.  Efes. 1:3 “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.”
Hier is ‘n paar wenke vir Paastyd.  Hoop dit vind byval!

1. Vier paasfees met ‘n Bybelse Maaltyd:  Skaapvleis met groente, lensieslaai, mengelslaai met slaaiblare, neute, rosyne, dadels en granaatpitte. Bedien broodrolletjies, paasbolletjies, hardgekookte eiers wat versier is of gevulde eiers en vye.  Bedien Pretzels – dit is aanvanklik so gemaak omdat dit lyk soos iemand se gevoude arms as hy bid. Maak ‘n heuning-poeding wat bedien kan word met room of roomys:
2.  Versier jou Paasfees tafel met die 5 kleure van die woordlose boekie.
2.1   Kry ‘n wit laken of tafeldoek en gooi oor tafel.  Gebruik ‘n klein vierkantige tafeldoen en gooi in middel van tafel.
2.2   Maak rooi, swart en wit  karton of  materiaal harte en gebruik vir plekmatjies by elkeen se plek by die tafel.
2.3   Gebruik ‘n groen of rooi of wit eetservies en dek vir elkeen ‘n groot bord en sybordjie.  Dek messe en vurke en  nagereg-lepels.
2.4   Plaas glase aan bokant van messe en plaas servette (rooi en wit inmekaar gevou soos waaiertjie) in glase.
2.5   Plaas goue kartonsirkels in die middel van die tafel en daarop groen blare soos “ivy”-blare.   Plaas rooi kruis,  donker kruis en wit kruis in middel van tafel op goue sirkel met paaseiers of hardegekookte eiers wat geverf is met mooi patroontjies. Plaas vars blomme in middel van tafel.
                                
VERTEL DIE PAASBOODSKAP MET DIE 5 KLEURE OP DIE TAFEL, LEES DIE BYBELVERSE EN BESPREEK:
Goud:  die goue sirkel in die middel van die tafel herinner ons daaraan dat God ons Koning is.  Lees Romeine 12: 33-36  “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!  ...Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.  Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.”
 Loof die Heer vir sy grootheid en goedheid met ‘n lied.
Swart:  Die swart kruis en donker harte vertel van die sonde van die mens: Lees Rom. 6: 18 – 24 “Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.  Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die selgte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek....  Ek, ellendige mens! Wie sal my van die doodsbestaan verlos?” 
Gee tyd vir stilgebed waar elkeen sy sonde bely.
Rooi:  die rooi harte en kerse en servette herinner ons daaraan dat God vir Jesus Christus gestuur het om in ons plek die sonde te dra. Jesus se kruisdood moes gebeur sodat Hy die die toorn van God teen die mens se sonde op Hom kon neem.  2 Kor. 5:21 “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”  Rom. 6:6  “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.” 
Loof God dat ons ou mens saam met Christus gekruisig is
Wit:  Die wit kleur van die harte, kruis, kerse en servette vertel vir my dat ons van ons sonde vrygemaak kan word. Rom. 6:6 “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.”   Rom. 6:18  “Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.” 
Sing die lied:  “Kom kniel by die kruis (3x), want Jesus ontmoet jou daar.  Jesus sal al jou sonde wegwas, jou wonde wegwas, jou sonde wegwas.  Jesus sal al jou sonde wegwas, as jy kom kniel by die kruis
Groen:  Die groen kleur van die blare en kerse en servette herinner my daaraan dat ek as ‘n gelowige moet groei en toeneem in kennis van die Here.  Rom. 8:8  “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.  ..... Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak....”  Bestudeer God se Woord, die Bybel en praat met God sodat Hy jou kan help om geestelik te groei.
Draai na mekaar en bid in 2’s vir mekaar se geestelike groei

3. Maak Paasfeeskaartjies of Bybelmerke met groete boodskappe, bv. Joh. 10:11  “Ek is die goeie Herder.  Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”  Of kruisies met die woorde “HY LEEF”!                                                                           


No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap