Wednesday 6 November 2013

God die Heilige Gees

Sing  lied op “Vader Jakob” se wysie:  God die Vader (2x) God die Seun (2x)  God die Heilige Gees (2x) Drie in een (2x) 

Ons aanbid ‘n drie-enige God.  Drie persone, maar net een God. 

Ons weet dat God die Vader, ons Skepper God is en dat ons bid tot God die Vader.

God die Seun, Jesus Christus is in Bethlehem gebore en het vir ons aan die kruis gesterf op Golgotha om vir ons sondes te betaal en ons bid deur Hom tot God. 

Toe Jesus opgevaar het na die Hemel, het hy vir al sy dissipels – die mense wat hom gevolg het – gesê hulle moet in Jerusalem bly totdat die Heilige Gees oor hulle kom.  Daarna sal hulle krag ontvang om te getuig van Jesus.   

Wat beteken DIE HEILIGE GEES?

GEES beteken dat Hy nie ‘n liggaam het nie en dat Hy oral in die hemel en op die aarde is, maar Hy is ook ‘n persoon.  Hy is die derde persoon van ons drie-enige God (Vader, Seun en Heilige Gees).

HEILIGE beteken dat Hy geen sonde het nie en nooit iets verkeerd kan doen nie, Hy is volkome rein.

DIE beteken Hy is die enigste Heilige Gees.  

Die Heilige Gees is ‘n persoon daarom:
- praat Hy met ons en help Hy vir ons om die regte dinge te sê – Markus 13:11.
- leer Hy vir ons hoe ons moet lewe deur vir ons die Bybel te laat verstaan.
- lei  Hy ons op die regte paaie en help ons om soos ‘n bootjie op koers te bly en altyd te weet waarheen ons op pad is.

 Hand. 20:28 vertel die mooi storie van Filippus wat ‘n dissipel van Jesus was en eendag die stem van die Heilige Gees gehoor het wat vir hom gesê het:”Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop”.  Toe Filippus daar kom, was daar ‘n Ethiopiër wat op ‘n wa gery het en besig was om uit die Bybel te lees – uit die boek Jesaja.  Die Heilige Gees sê toe vir Filippus “Gaan loop saam met daardie wa.”  Filippus het nader gehardloop en vir die man gevra:  “Verstaan u wat u lees?”   Die man het geantwoord:  “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”  Hy het toe vir Filippus gevra om op die wa te klim en vir hom te verduidelik.  Die Heilige Gees het vir Filippus gehelp om dit so te verduidelik dat die Ethiopiër vir Jesus Christus aangeneem het as sy Verlosser.  Hy het gevra Filippus moet hom doop sodat hy deel van God se huisgesin kon wees.  Die man het verder met blydskap sy reis voortgesit.

Sy nuwe pad met Jesus Christus het begin!!  

Paulus sê vir ons in Rom. 12:1 en 2 dat ons onsself aan God moet oorgee elke dag en vir Hom moet vra dat Hy ons sal help om vir Hom te leef.  Vra dat die Heilige Gees met ons sal praat en vir ons sal leer en vir ons sal lei wat ons moet dink, sê en doen sodat ons op die regte pad sal bly. 

Mag jy weet dat jy ‘n kind van God is omdat Jesus vir jou aan die kruis die prys betaal het vir al jou sonde.  Mag jy elke dag beleef hoe die Heilige Gees vir jou lei op die regte pad.   

Paulus sluit die brief aan die Korinthiërs af met hierdie pragtige woorde om te wys dat God drie-enig is:  2 Kor. 13:13  “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.”

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap