Saturday 29 June 2013

VAKANSIEPLANNE - HOU PIEKNIEK!!

ORGANISEER ‘N LEKKER PIEKNIEK VIR BINNENSHUIS OF BUITE IN DIE NATUUR:  

1.  TEDDIEBERE-PIEKNIEK: (vir kleuters)

Pak al jou sagte speelgoed en teddiebere in ‘n mandjie en pak bekertjies en koeldrank en koekies in ‘n ander mandjie.

Nooi een of twee maatjies na die piekniek en vra hulle moet ook hulle beertjies saambring.

Vra vir Mamma om vir julle ‘n kombers of slaapsak onder ‘n boom oop te gooi.

Pak al die speelgoed een kant van die kombers uit, pak al die eet en drink-goed aan die ander kant uit en hou lekker fees!!  

2.  LIEDJIES EN GEDIGTE-PIEKNIEK:

Nooi iemand wat kitaar kan speel en kinderliedjies ken.  Neem ‘n gedigteboek en die Bybel saam.

Vra vir elkeen om iets saam te bring na die piekniek – rou groente soos wortelstokkies of komkommerringe, tamaties in wiggies gesny; vrugte soos druiwe of appels of piesangs.  Julle kan ook vrugtesap saamneem en broodrolletjies of toebroodjies.

Neem papierborde saam en laat elkeen ‘n gesig uitpak op die papierbord met die vrugte en groente voordat dit geëet word.

Na die ete kan julle lekker saamsing en kan gediggies of ‘n Psalm uit die Bybel gelees word.

Iemand of almal  kan selfs bid en die Here loof en prys vir al Sy seëninge! 
 

3.  STRAND-PIEKNIEK:

Maak seker die wind waai nie op die Strand nie! 

Pak ‘n mandjie met:

toebroodjies, gebakte wors, gekookte eiers (10 min. Nadat die water  begin kook het), sout en peper, tamaties, ‘n pak aartappelskyfies, koeldrank.  Onthou die bekertjies en papierborde.

Neem ‘n reisdeken of slaapsak, opvoustoele en sambreel asook ‘n bal.

Kry ‘n lekker plek vir jul gesin en pak alles uit.   Eet eers lekker rustig en bekyk die pragtige see en berge en loof die Heer vir die wonder van die Skepping.

Speel dan ‘n paar balspele, swem as dit lekker warm is en vier FEES!
 

4.  PIEKNIEK MET JOUSELF:

Het jy al daaraan gedink dat jy op jou eie ‘n piekniek kan hou?  Hier is hoe:

Dek vir jou ‘n mooi tafeltjie met ‘n mooi tafeldoek en sit jou spesiale bord, glas of koppie daarop met jou gunsteling eetgoed. (My gunsteling eetgoed sal wees:  Soutbeskuitjies, kaas, tamatie, avokadopeer, neute,  tee en sjokolade)

Speel die CD waarvan jy baie hou.  (My gunsteling is een van Mozart se klavierkonserte)

Teken ‘n prent van Psalm 23 waar staan:  “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.  Hy laat my in groen weivelde rus.  Hy bring my by waters waar daar vrede is.  Hy gee my nuwe krag.”

 

5. PIEKNIEK OM JOU EETKAMERTAFEL: Pak speletjies soos Dambord, “Chinese Checkers”, “Rummikub”, “Thirty seconds”, Uno ens.op tafel.  Pak broodrolletjies en worsies uit op ‘n skinkbord  met pakke aartappelskyfies, tamatiesous en aanmaak koeldrank. Sny ook appels op in 16des en plaas in bakkies op tafel vir peusel.  Besluit watter speletjies wanneer gespeel gaan word en hou boek van wie wen.  Besluit ook wanneer om te eet.  Geniet ‘n heerlike piekniekete en speletjiesaand!!

 

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap