Sunday 9 June 2013

LEER KINDERS WAT OM TE DOEN OM GEESTELIK TE GROEI

HOE GROEI ‘N MENS GEESTELIK?
Die Bybel sê vir ons in 2 Petrus 3:18 “Sorg liewer dat julle steeds groei in die  kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”
Hoe groei ‘n mens?  ‘n Baba huil as hy/sy honger is en hul kry dan melk om te drink sodat hulle kan groei.  Later kry hul vaste kos soos pap of vrugte en groente en as hul geweeg word, word daar altyd seker gemaak ‘n baba tel gewig op, anders is daar ‘n groot probleem.  In baie huise is daar ‘n meetstok teen die mure sodat die kinders gereeld kan kyk hoe hulle groei en of hul mekaar verbysteek wat hul lengte aanbetref. 
Die Bybel sê ons moet groei in kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.  Hoe gebeur dit?
 
1. Bybel te lees  2. Te Bid 3.Te getuig 4. Sonde te bely 5. ‘n Evangeliese Kerk
                               by te woon
 
1.      Dit is baie belangrik dat jy ‘n Bybel moet hê, en die Bybel moet glo en jou Bybel moet lees.  Die Bybel is die Woord van God waar jy alles van God leer, alles van Jesus Christus  leer en alles van die Heilige Gees leer. 
C.H. Spurgeon, ‘n bekende, Engelse prediker het gesê: “’n Mens se Bybel moet vir jou wees soos wat ‘n akkerboom vir ‘n eekhorinkie is –dit is sy blyplek, sy kos, sy speelplek en sy skuilplek.” 

As jy jou Bybel ken, is dit soos kos vir jou siel.  Dit help jou om reg op te tree, maar dit help jou ook om jou te beskerm met al die raad wat jy daarin kry. Die beloftes in die Bybel gee vir jou krag en sorg dat jy jou nie bekommer nie, bv. Ps. 119:9 “Hoe kan ‘n jongmens ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord.”
2.     Dit is baie belangrik dat jy bid en met jou Hemelse Vader praat in gebed, want dit help jou ook om geestelik te groei.  As jy praat moet jy nie net met jou wenslysie na die Here gaan nie, nee, jy moet begin deur die Here te loof vir wie Hy is en vir alles wat Hy doen.  Begin bv.  Onse Vader ek loof U omdat U ons Skepper is, ek loof U omdat U Almagtig is en alles kan doen.  Praat met God oor alles wat jou bly maak en alles wat jou hartseer maak en doen dit in die Naam van Jesus en in geloof dat die Here jou gebede sal antwoord soos wat Hy die beste weet. Dawid bid ‘n pragtige gebed in Ps. 23 waar Hy sê: “Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. Hy laat my rus in groen weivelde; na water wat verfris, lei Hy my.  Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam.”
3.     As jy gereeld jou Bybel lees en gereeld tot God bid deur Jesus en gereeld beleef hoe God vir jou help en jou gebede beantwoord, moet jy ook in die derde plek vir ander mense daarvan vertel.  Jou getuienis kan vir ander mense help om ook by Jesus uit te kom.  As die Here vir jou gehelp het toe jy problem gehad het, kan jy dit gerus vir jou maats vertel.  As jou maats vloek of dinge doen wat nie reg is nie, vra dat die Here vir jou krag moet gee om te getuig en vertel vir hulle dat hulle nie reg optree nie. 
4.     In die 4de plek is dit belangrik om jou sonde te bely.  As jy ‘n kind van die Here is, wil dit nie sê dat jy volmaak is nie.  Omdat ons op aarde is en geredde sondaars is, kan jy terugval in sonde en dinge doen of sê of dink waarmee jy God hartseer maak.  As ‘n skaap in modder val, kan hy nie gou genoeg daaruit kom en probeer skoon kom nie, maar ‘n vark wat in modder val, geniet dit en rol rond daarin.  So is dit met ‘n gelowige mens, as jy weer in sonde val, wil jy so gou as moontlik daaruit kom en weer skoon kom.
5.     Die vyfde punt om geestelik te groei, is om saam met gelowiges wat in Jesus Christus glo en Hom aanbid, kerktoe te gaan of Sondagskool toe te gaan waar jy meer kan leer van die Here.  Ander gelowiges se manier van die Here aanbid, help vir jou om te groei en nader aan die Here te kom.  Dink maar aan ‘n kool vuur wat uit die vuur val en eenkant lê.  Hy gaan dood en raak yskoud.  Jy kan ook afkoel as jy op jou eie kerkhou.  Soek na ‘n kerk waar die Bybel geglo word, waar Jesus Christus as die Here en Verlosser verkondig word en waar gelowiges mekaar liefhet en ondersteun.
Hierdie 5 punte om geestelik te groei, kan net gebeur as jy reeds ‘n kind van God is deurdat jy in Jesus Christus glo.  Jou geloof in Jesus Christus, maak vir jou begerig om te wees soos Jesus.  Dit maak dat jy meer wil Bybel lees, meer wil praat met jou Hemelse Vader deur gebed, meer wil getuig en vir ander mense na Jesus wil lei, elke keer jou sonde wil bely as jy iets verkeerd doen en saam met gelowiges kerktoe gaan. 

‘n Paar vrae:
Ken jy vir Jesus Christus as jou Here en Verlosser?
Behoort jy aan God se familie? 
As jy kan “ja” antwoord,  kan jy die Here loof en prys daarvoor en Hom vra om jou te help om geestelik te groei. Vra ook dat die Here vir jou sal help om ander na Hom te trek.
As jy “nee” antwoord, kan jy nou vir die Here vra om vir jou te help om Sy kind te word.  Bely jou sonde voor die Here, vra vir Hom om in jou lewe te kom woon en vra dat die Here vir jou die begeerte sal gee om gereeld Bybel te lees, tot God te bid deur Jesus Christus en vir ander te vertel van Jesus.

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap