Is
dit geld en goed wat jou gelukkig maak en dink jy gedurig oor hierdie
verganklike goed wat jou gelukkig maak?
Die Here waarsku teen hierdie lewenswyse dat hierdie geluk nie vir altyd
sal hou nie.
Ons
lees in die Bybel in Jer. 2:16 “My volk het 2 sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water
verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat
gebars is en nie water hou nie.”
Wat
bedoel die Here as Hy sê ons maak vir onsself waterbakke wat bars en nie die
water kan hou nie? Dit
beteken ons soek ons geluk en voorspoed op plekke wat net vir ‘n tydjie vir ons
vreugde verskaf, maar later bring dit nie meer vreugde nie.
1.
Miskien
dink jy dat harde werk, baie eiendom,
geld en rykdom die antwoord is vir geluk. Ons lees in Lukas 12:16-21 van ‘n man wat so
ryk was en bly opgaar het sodat hy later sy skure moes afbreek en groter skure
bou om alles te kan bêre. Toe het hy by
himself gedink, nou kan hy agteroorsit en die lewe geniet, maar die Here het
hom ‘n dwaas genoem en sy lewe van hom weggeneem. Sy rykdom het vir hom niks beteken om ware
geluk te kry nie.
2.
Miskien
dink jy dat sport vir jou ware geluk
kan bring. Jy dink miskien as jy tog net
eendag ‘n Springbok speler, ‘n Beroepssportman of vrou kan word, sal dit die
toppunt van geluk beteken. Dit gee vir jou baie vreugde as jou span wen en die
sjampanjebottels kan oopgemaak en gespuit word oor al die wenners, maar dit
bring net tydelik geluk. Jy besef hoe
sleg dit is elke keer as jou span verloor.
Sport bring net geluk, ook vir die sportman, solank as hy jonk is en sy
kragte hou.
3.
Jy
dink miskien om goeie vriende te hê
bring vir jou geluk. Vriende is
belangrik en bring vir ons blydskap en vreugde, maar vriende kan ook vir jou in
die steek laat. Hul kan sommer skielik
nuwe vriende maak en vir jou los en dit kan jou baie hartseer maak. Vriende is dus nie die antwoord om vir jou
vir altyd gelukkig te maak nie.
4.
Miskien
dink jy vermaak soos om TV te kyk of TV speletjies te speel of videos te kyk, dit maak my gelukkig. Jy kan miskien vir ‘n paar ure daarmee
vermaak word en dan besef jy skielik jy het ‘n hele dag gemors met die
speletjies en aan die einde voel jy glad nie gelukkig met jouself nie.
Ill.
Daar was eendag ‘n man wat na die dokter
gegaan het en vir hom gevra het wat hy kon doen want hy voel so depressief en
ongelukkig. Die dr. sê toe hy moet na
die sirkus gaan wat in hulle dorp was en veral gaan kyk na die nar wat so baie
toertjies kan doen en mense so laat lag!
“Wat, sê die man toe, ek is die nar wat elke dag die mense moet
vermaak!” Dit lyk soms of ander so
gelukkig is wanneer hulle besig is met hul vermaak, maar ware geluk is nie in
vermaak te vind nie.
5.
Sommige
mense soek hul geluk in drank en
dwelmmiddels. Dit is vir hulle
heerlik om op ‘n “trip” te gaan en vir ‘n tyd te vergeet van alles wat hulle
ongelukkig maak. Ongelukkig kom die
dinge wat hul ongelukkig maak weer terug as hul nugter is en in die tussentyd
versleg hul gesondheid, want drank en dwelms tas ‘n mens se brein en liggaamskrag
aan en jy gaan al meer agteruit! In die
Bybel in Spreuke 31:4-6 lees ons watter raad ‘n ma vir haar seun wat ‘n Koning
was, gegee het: “Dit pas mense met gesag nie om hulle aan drank oor te gee nie. As hulle drink, vergeet hulle wat die wet
bepaal……Gee drank aan die wat besig is om onder te gaan, laat die wat swaar ly,
drink; as so ‘n mens drink, vergeet hy van sy armoede en dink hy nie meer aan
sy moeilikheid nie.”
Moet nooit toelaat dat drank of dwelms jou baas word nie, want
dit kan vir jou geen blywende geluk bring nie!
Daar is net een weg na ware geluk en
blydskap en dit is God se manier. Jesus
het vir die Samaritaanse vrou met wie Hy gepraat het toe sy haar kruik wou kom
volmaak by die put in Samaria. Ons lees dit in die Bybel in Joh. 4:14 “Elkeen wat van hierdie water van die put
drink, sal weer dors kry, maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal
gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.
Nee die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water
wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”
Hier
is die antwoord – dit is die bron wat jou gelukkig maak en vir altyd gelukkig
hou: JESUS. Met Jesus in jou lewe, het jy die water wat
jou sal help om nooit weer geestelik dors te kry nie. Jesus is die enigste Een wat die lewende
water kan gee, Hy neem jou dors weg na ander dinge om jou gelukkig te maak en
gee jou vreugde vir ewig.
Glo in die Here Jesus en
neem Hom aan as jou Verlosser sodat Hy vir jou vreugde kan gee. Maak Hom die Koning van jou lewe en leef
voluit vir Hom. Doen dit sommer nou –
vra vir Jesus om jou te help om in Hom te glo, bely al jou sonde en vra Hy moet
jou vergewe dat jy genot probeer put in rykdom, of vermaak, of drank en dwelms
of vloek en skeltaal en ander mense beledig.
Vra dat Jesus die sonde sal bedek met Sy bloed en vir jou skoon sal was
en vul met Sy liefde.
Mag
die vers in Jeremia 2:13 nooit van ons geskryf word nie, maar eerder:
“My kinders, Dan, Petro, Francois,
Charmaine, Gavin, Marié, Johan, Celia, Danie, Rachael, Anne, Francoin,
Anne-Marié, Caitlin, Carla, Mia, Boeta, Rebecca en Josie en baie ander, het 2
uitstaande kenmerke – Hulle het My die bron van lewende water nooit verlaat nie
en altyd naby my gebly en hul vreugde in My gevind!”
In Psalm 1 staan daar dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Here se Woord vind en dit dag en nag oordink!
In Psalm 1 staan daar dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Here se Woord vind en dit dag en nag oordink!
No comments:
Post a Comment