Sunday 7 July 2013

Vakansie-planne


Die wintervakansie is nog ‘n week lank .  Soek julle dalk idees oor hoe om julself besig te hou en nie net rekenaarspeletjies te speel of TV te kyk nie?  Hier is 'n paar idees vir Oupas, Oumas, Pappas en Mammas en kinders vir die vakansie of die res van die vakansie:  

  1. Beplan ‘n motorhuis-verkoping.  Vra vir Pappa en Mamma, Oupa en Ouma om alles bymekaar te maak in die huise wat hulle nie meer gebruik nie.  Spandeer tyd om vir alles ‘n prys te maak en merk dit deeglik.  Maak ‘n plakkaat om voor jul huis op te rig met die kennisgewing van wanneer en hoe laat die verkoping gaan plaasvind. Julle kan selfs koeldrank aanmaak en verkoop. Die geld kan jul gebruik om as gesin iets te doen, bv, na ‘n  akwarium  te gaan.
  2. Hou ‘n huiskonsert:  Vra ‘n paar van jou maatjies en beplan ‘n verskeidenheidskonsert.  Julle sal moet oefen voor die tyd aan sang en voordrag en toneeltjies.  Jul kan selfs ‘n CD speel en sangers naboots.   Vra  vir Pappa en Mamma om jul te help met ‘n tyd en plek om die konsert te hou.   Nooi familie en vriende uit en laat hulle ‘n fooitjie betaal.  As julle vir Mamma of Ouma mooi vra, sal sy dalk pannekoek bak en kan jul dit ook  by die konsert verkoop!
  3. Vir die gesinne wat ver gaan reis,  het ons  ‘n plan om die langpad per motor, makliker te maak.   Maak ‘n verrassingssak.  Elkeen van die gesin kan iets koop bv. stokkielekkers, inkleurboekies, speletjies, droëvrugte, ens. Elkeen maak dit op in  pakkies en alles word in die verrassingssak gepak.  Nadat julle die langpad begin het en Pappa of Mamma het ‘n gebed gedoen om die Heer se seën te vra op die langpad, word die voorwaarde-brief gelees.  In die brief word verduidelik hoe gereeld die sak oopgemaak gaan word , bv. elke 3 ure, maar indien daar bakleiery of lelike gedrag was, vind die oopmaaktyd ‘n uur later plaas.  Ons gesin het gereeld hierdie speletjie gespeel op die langpad en dit werk werklik baie goed!!  Ek het die wenk ook ingestuur na die Huisgenoot en dit het groot byval gevind by gesinne!
  4. Hou ‘n poppespel.  Julle kan jul eie poppe maak van karton of papierborde  en dit dan aan stokke vassit.  Maak  ‘n poppekas van ‘n kartondoos of tafeltjie.  Sit of lê agter tafeltjie en soos iemand ‘n verhaal lees, laat beweeg jy die poppe bo die karton of tafeltjie.  Iemand kan selfs vir jou die verhaal lees en laat opneem op ‘n kasset met musiek daarby.  Julle kan self ‘n kompetisie hou en kyk wie se pop is die mooiste of kleurvolste.
  5. Begin met ‘n versameling, bv. maak mooi klippies bymekaar. Versamel verskillende vorms en kleure blare wat jy in ‘n ou telefoongids kan laat lê totdat hulle droog is.  Plak hulle dan in ‘n boek of raam selfs van hulle om teen jou muur te hang.  Versamel potlode, uitveërs, seëls of skulpies en hou hulle in houertjies wat jy self maak.  Jy kan kartondose oortrek met mooi papier of materiaal. 
  6. Inkleur-kompetisie:  Kry mooi inkleurprente of teken jou eie prente en kleur dit baie mooi in en kyk watter is die mooiste.  Dit moet volgens ouderdomme beoordeel word.  Neem dan die mooiste en laat dit lamineer om teen jul muur te hang of agter jul kamerdeur!  Skryf ‘n mooi Bybelteks daarby en versier dit.  Jy kan ook boekmerke maak met Bybeltekste en dit mooi inkleur en as geskenke gee vir jou maats of familie. 
Laat weet vir my wat dink julle van al die planne en of julle daarvan kon gebruik.

No comments:

Post a Comment

Woordlose boek se oorsprong en boodskap